Van ver af is enige iemand vlak
- Roedolf Botha
- Jul 15
- 3 min read
Flieks soos Shrek het vir my soveel sosiale kommentaar van hoe vandag se mense stereotipes maak van mense en dinge wat ons nie verstaan nie. Die voor-die-hand-liggende voorbeeld in die fliek is Shrek self. Hy is ‘n ogre, ‘n monster. Almal in die dorpie wil hom net uitwis of doodmaak want monsters is mos almal sleg. Dis wat almal hulle kinders leer van kleins af. ‘n Mens moet immers jou vyande ken. Van ver af lyk die optrede van enige iemand verdag en die persoon word as sleg gestereotipeer. In ‘n veelseggende toneel in die fliek praat Shrek en Donkey (dis sy naam!) met mekaar en verseker Shrek vir Donkey dat selfs monsters meer kompleks is as wat mense dink. “Ogres are like onions. They have layers,” sê hy. Mense beoordeel en veroordeel monsters sommer summier op die uiterlike, die sigbare laag van die ui, maar luister nie verder nie en kyk nie dieper nie. Dis te veel moeite. Dis veel beter om vinnig ‘n opinie te vorm sonder om te dink. Maar wat as ons verkeerd is oor sommige “monsters”? Die boodskap van Shrek is dat as selfs monsters dieper dimensies het as wat ons kan waarneem, hoeveel te meer is dit nie waar van die kompleksiteit van mense nie.
Hoe meer oppervlakkig ‘n samelewing word hoe meer hanteer ons mekaar soos strokiesprentkarakters. Sulke karakters is meestal vir kinders geskryf en gevolglik is hulle persoonlikhede en morele samestellings gewoonlik oorvereenvoudig, simplisties en eendimensioneel. Shrek is nie die enigste voorbeeld nie. Neem nou maar vir Tom & Jerry. Daar is niks kompleks aan een van die twee karakters nie. Tom is die kat en hy is sleg want hy probeer altyd vir Jerry, die muis, vang. Jerry is goed. Hy is altyd goed en die kat is altyd sleg. Dis al wat jy hoef te weet. Road Runner is goed en Coyote is die skurk. Die karakters is geensins genuanseerd of kompleks nie. Hulle het min innerlike stryde of kontrasterende dimensies. Tom en Coyote is die skelms en Jerry en Road Runner is die morele slagoffers. Dis al. Dis hoe dit is.
So hanteer ons mekaar ook op sosiale media, elke dag in besighede, gesinne en selfs gemeentes. As jy met my verskil, is jy verkeerd, dom of selfs sleg. Ons hanteer politieke leiers en verskillende regerings ook so. Daar is geen middelgrond nie. Ek hanteer jou soos ek Tom of Jerry hanteer. Tog weet ons realisties gesproke dat enige persoonlikheid uiters kompleks en genuanseerd is. Daar is baie dinge in ‘n bepaalde persoon wat oënskynlik boos voorkom. Wanneer ‘n mens egter naderkom, ‘n koppie koffie saam drink of ‘n bord kos saam eet, dan kom jy agter dat die ander persoon nie so simpel is as wat hy voorkom nie. Daar is meer aan hom en sy opinie.
Hoeveel keer het ek en jy, wanneer iemand ons kritiseer of beskuldig van iets, nie al gevoel “... ek is méér as dit ...” nie. “Ek is meer as wat die mense van my dink, meer as wat my kollegas kan sien, meer as wat mense op publieke vlak hoor. As hulle net kon verstaan. As ek myself net kon verduidelik...”
Ons hanteer mekaar soos strokiesprentkarakters want ons het slegte luisteraars geword. Ons luister nie meer diep nie. Die Here het elke mens egter wonderbaarlik gemaak, met baie lae van verstaan. Ja, soms ís iemand geheel en al boos. Of dwaas. Of skoon simpel. Moet net nie vergeet dat jóú oordeelsvermoë ook deur die sonde aangetas is nie.
People are like onions. They have layers.
Moenie te vinnig praat nie. Luister eerder nog ‘n keer.
Iemand het een keer gesê: “‘n Vyand is slegs iemand wie se storie jy nog nie diep genoeg gehoor het nie.”
Comentários