top of page

Daal af in die Here se grootheid in

  • Roedolf Botha
  • 2 hours ago
  • 2 min read

Die kruis van Jesus leer vir ons baie dinge. Een van die belangrikste hiervan is nederigheid. Ons hou egter nie van nederigheid nie. Geestelike boeke oor nederigheid verkoop nie altyd goed nie. Ek onthou nog hoe ‘n Amerikaanse boekuitgewer vir Bill Hybels, een van hulle gewildste skrywers, gevra het om ‘n boek oor nederigheid te skryf.

Hy’t hulle egter gewaarsku dat hierdie boek nie goed gaan verkoop nie, aangesien selfs Christene in die Westerse wêreld nie aanklank vind by nederigheid nie, selfs al glo ons dis belangrik. Hy doen toe nietemin wat die uitgewers vra en gee sy boek die titel “Descending into Greatness”. Die boek word toe gepubliseer en wel ... Bill was reg. Die boek verkoop toe byna glad nie. Hoe jammer dat ‘n Christelike uitgewer nie ‘n boek kan uitgee wat die kerk kan help om een van Jesus se mees fundamentele karaktereienskappe aan sy mense te leer nie.


Die vader van die kloosterlewe, Benediktus, wat van 480-540 nC geleef het, het nederigheid as so basies tot die geestelike lewe beskou, dat hy 12 eienskappe of stappe saamgestel het waaraan die lede van sy orde moes voldoen om sodoende nederigheid te beoefen. Ek noem slegs ‘n paar van hierdie stappe.


  • Hoë en diep agting vir God. ‘n Mens kan nie nederig wees sonder om te besef wie God is en hoe klein ons is in vergelyking met Hom is nie.

  • Verloëning van jou eie wil. Benediktus was diep onder die indruk dat alhoewel die wêreld ons versoek om onsself te propageer, ons onsself moet verloën. 

  • Gehoorsaamheid aan jou oppergesag. Mense wat nederig is, het geen probleem om aan ander menslike owerhede onderdanig te wees nie.

  • Daaglikse sondebelydenis was fundamenteel tot die kruislewe van Jesus.

  • Totale tevredenheid met jou situasie, terwyl jy die laagste posisie beklee, of geen agting afdwing in die oë van die mense rondom jou nie.

  • Stilte totdat iemand met jou praat. Soms, het Benediktus beweer, moet jy bloot stilbly, tensy iemand iets spesifiek vir jou vra. Sy rede was dat mense regtig te dikwels dink dat hulle opinies belangriker is as wat dit werklik is. Almal hoef egter nie altyd van jou opinie kennis te neem nie.

  • Wanneer jy wel praat, praat met ‘n sagte gees en met beskeidenheid.


Lede van Benediktus se beweging, wat nie aan hierdie eienskappe van nederigheid voldoen het nie, is sag maar streng tereggewys. 


Hierdie eienskap van nederigheid is so belangrik dat Jesus self nooit tot aan die kruis sou sterf, sonder dit nie. God met al Sy mag en majesteit, is die nederigste Wese in die heelal. Eers toe Jesus Sy nederigheid aan die kruis bewys het, is Hy verhef tot aan die regterhand van God. So is dit ook met ons. Ons verhef nooit onsself nie. God sal dit self doen as en wanneer Hy dink dis nodig.


Dus klim ons nie die leer op tot grootheid nie. Soos Jesus klim ons af in God se grootheid in.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page