top of page

Vreeslike genade

  • Roedolf Botha
  • 12 hours ago
  • 3 min read

Ek vra nou die dag vir ‘n vriend van my wat ook ‘n professor in Nuwe Testament is, hoe ons die “vrees van die Here” in die Ou en Nuwe Testament moet verstaan. Was die mense regtig bang vir die Here? Of moet ons die woord “vrees” anders interpreteer? Sy antwoord was eenvoudig: “Ja, natuurlik was hulle bang. Hoe sal jy voel wanneer die Here Homself in Sy mag en heerlikheid aan jou openbaar? Dink jy miskien dat jy in die teenwoordigheid van soveel mag kan staan en nie vrees nie?” Dit maak natuurlik heeltemal sin. 


Ek dink toe aan ‘n toneel uit die Lord of the Rings-trilogie, Fellowship of the Ring. In die toneel is Bilbo, een van die hoofkarakters, in sy huis besig om met Gandalf, die groot geestelike wysgeer, te argumenteer. Hulle argumenteer omdat Bilbo nie die ring wil laat gaan nie. In die storie is die ring simbolies van sonde en versoeking, wat op al ons menslike begeertes voed. Bilbo is al jare in besit van hierdie ring en hy weet hy moet dit laat gaan, maar, net soos wat ons soms aan ons sondige gewoontes vashou, is hy traag. Die ring het te kosbaar vir hom geword, soos baie van ons eie vleeslike gemaklikhede. Eensklaps raak die kamer donker en stormagtig en Gandalf praat met ‘n kwaai, diep stem soos uit die hemel en spreek Bilbo aan oor sy hardkoppigheid. Dis vreesaanjaend, want Gandalf het baie geestelike outoriteit en mag. Dadelik sien ‘n mens hoe Bilbo vreesbevange ingee. Dan raak dit ligter in die kamer, die “donderweer”-atmosfeer klaar op en Gandalf, nou minder kwaai, sê:


“I am not trying to harm you.”

Nou is die kamer heeltemal lig en vriendelik en Gandalf se stem sag en liefdevol:


“I am trying to help you.”

Dit het my so laat dink aan wat dikwels in die stories van die Bybel gebeur wanneer God Homself openbaar. Daar is gewoonlik drie dinge wat ‘n mens waarneem. Eerstens openbaar God Homself, aan Moses by die tent van ontmoeting, Jesaja in die tempel, of God en Jesus in die Nuwe Testament. Die engele verskyn aan die skaapwagters, of Jesus doen ‘n wonderwerk, of Hy openbaar sy mag oor die natuur, wanneer Petrus hulle soveel visvang dat hulle nette wou skeur. God openbaar Sy heerlikheid.


Tweedens is daar vrees. Daar is gewoonlik vrees by mense wat God se heerlikheid aanskou. Jesaja dink hy gaan sterf! Die skaapwagters skrik hulleself buite weste. Petrus val bang voor Jesus en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Die vrouens hardloop vreesbevange weg van die oop graf af. Vrees maak sin. Dink ons werklik dat ons ongeërg sal gaap wanneer die lewende God van Israel Sy heerlikheid aan ons openbaar?! Om in die teenwoordigheid van soveel mag te wees, kan uiters intimiderend en vreesaanjaend wees! God se mag is inderdaad skrikwekkend vir ‘n sterflike mens. Hoe dan anders?


Maar is daar derdens byna altyd die genadige en vertroostende woorde: “Moenie bang wees nie.” Dis die woorde waarmee die God van die kosmos so dikwels Sy mense moet kalmeer wanneer Hy verskyn. God is goed en Hy wil by ons wees. Daarom word vrees en bewing tegemoetgekom met genade. Hierdie woorde weerklink veral aan die kruis wanneer Jesus Sy mag weggee en Sy liefde finaal openbaar. Die teoloog, Fleming Rutledge, noem dit God se “vreesaanjaende genade”. God openbaar nie Sy mag om te vernietig nie, maar om te help.


“I’m not trying to harm you. I’m trying to help you.”

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page