top of page

Moenie alles aanvaar wat jou aangebied word nie

  • Roedolf Botha
  • 2 days ago
  • 3 min read

In Fellowship of the Ring is daar ‘n insiggewende toneel wat aandui hoe paraat ons elkeen moet wees oor ons eie vermoë om die bose te kan hanteer. Frodo, die klein onskuldige hobbit (dwergagtige mensies van Middle Earth) besit die towerring. Dis vir hom gegee juis omdat hy daarmee kan vertrou word. Maar dan kom Frodo agter dat die magtige swart ruiters op pad is om hom te kom vermoor en die ring by hom af te neem. Dan bied hy die ring aan vir Gandalf, sy wyse geestelike mentor en wysgeer. Die ring is egter ‘n groot versoeking, want dit bied mag vir die persoon wat dit besit, maar dis ook gevaarlik en kan sy eienaar tot ondergang lei indien hy homself vergryp aan die mag wat dit bied. Maar Gandalf is tog Gandalf, die groot leermeester van baie. Sekerlik kan hy die bose magte van die ring weerstaan. Gandalf self dink egter nie so nie en reageer dus met die woorde:


“Don’t tempt me. I dare not take it, even to keep it safe. Understand, Frodo, I would use the ring from a desire to do good. But through me it would wield a power too great and terrible to imagine.”

Vir die een of ander rede dink ons altyd ons kan ons eie bose begeertes beheer. Ons probeer onsself gedurig oortuig dat ons sterk genoeg is om sonde te hanteer vir die koninkryk. ‘n Tannie in ‘n vorige gemeente het met ‘n oom in ‘n seksuele verhouding saamgebly. Toe ek haar daaroor konfronteer sê sy ewe ongeërg: “Dominee, ek is ‘n goeie mens, ek is seker die Here gun my hierdie een sondetjie.” So rasionaliseer ons oor ons eie slegte gewoontes. “Ja, mag is sleg,” so dink ons, “maar ek sal nie toelaat dat dit my beheer nie.” “Ja, ek jaag nou geld na, maar dis net om tydelik voor te kom - ek sal nie toelaat dat dit my hart oorneem nie.” “Ja, ek drink nou en dan so ‘n bietjie te veel, maar ek sal nie toelaat dat alkoholisme beheer neem nie.” Dis hoe ons met sonde speel. Nie Gandalf nie. Hy ken homself en sy eie menslike begeertes. Hy weet dat al het hy die beste bedoelings met die ring, hy dit uiteindelik nie sal kan bemeester en beheer nie. Die ring, net soos sonde, gehoorsaam slegs een meester en dis nie hyself nie. Die ring sal uiteindelik alles in die lewe oorneem en sy afgod word.


Ons dink dat ons ons vleeslike begeertes kan beheer en sonde kan bestuur voordat dit ‘n vernietigende effek op ons sal hê. Adam en Eva het ook so gedink, vertel teoloog Fleming Rutledge. Die oeregpaar het gedink dat hulle die kennis van goed en kwaad sal kan beheer nadat hulle die vrug geëet het. Hulle het geglo hulle sou die genie weer kon terugsit in die bottel. Maar hulle kon nie. Die impak en gevolge van sonde was te veel en te sterk vir hulle.


Slegs Jesus kon sonde finaal oorwin. Slegs God in menslike vorm kon die donkerte van sonde en dood die hoof bied en lewend anderkant uitkom. Deur Sy versoeking in die woestyn en uiteindelik aan die kruis, het Hy vir ons gewys wat om met ons sondige begeertes te doen: Gee dit vir Hom en laat Hom voor stap.


En ons? Ons volg sonder om ons aandag te laat aftrek deur allerlei versoekings langs die pad.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page