Wees uitdelers in die Here se Naam, nie vatters nie!
- Stephan Joubert
- Sep 19
- 2 min read
Teks: 1 Petrus 2:15
Die Amerikaanse bio-etikus en skrywer, Stephen G. Post, vertel dat wanneer hy as kind verveeld was, het sy ma graag vir hom gesê: “Go do so something good for someone else.” Dan het hy oorgestap na die bure toe en gevra of hy iets vir hulle kan doen. Post sê sulke dade van goeddoen was later so deel van sy lewe dat dit spontaan gebeur het. Hy het geleer om heel eerste te vra wat kan hy doen vir ander mense, voordat hy enigiets van hulle wil hê.
Ek is spyt dat goeddoen nie van kleintyd af by my in die kerk ingedril is nie. Ek is spyt dat tekste soos 1 Petrus 2:15-17 (wat leer dat dit God se wil is dat ons moet goed doen) nooit behoorlik in ons almal se geestelike geheue ingeprent is nie. Ek wens ek het minder kere gehoor van alles waarteen ek gekant moet wees, en meermale hoe ek ander moet dien in die Here se Naam moet dien. Maar vanjaar is dié jaar dat ek dit reg gaan doen. My liefde vir God gaan meer voelbaar in ander se lewens wees. Meer mense se laste gaan ’n rusplek kry op my skouers. Elke dag gaan ek iets goed in die Heer se naam vir iemand doen. Een dag op ’n slag, een mens op ’n keer - só gaan ek die wêreld in die regte Rigting help skuif. Van nou af gaan ek ’n “giver” wees, nie ’n “taker” nie. Ek gaan ’n uitdeler wees, nie ’n vatter nie.
Gebed:
U leer my om goed te doen, Heer. Lei my dan vandag om dit reg te doen. Lei
my om dit prakties te doen.




Comments