Saai min, oes min. Saai baie, oes baie
Vers: 2 Korintiërs 9:6
Boere moet baie saai en plant om groot oeste te hê. Die teendeel is ook waar. Paulus sluit aan by hierdie eenvoudige, maar kragtige, geestelike les in 2 Korintiërs 9:6. Hy sê dit is ook waar van ons geestelike lewe dat as ons min saai, dan oes ons min, en andersom. Hier in 2 Korintiërs 8-9 is hy besig om gelowiges op te roep om ruim by te dra tot ‘n kollekte vir arm gelowiges in Jerusalem. Binne hierdie konteks maak hy dit duidelik dat geloof ook met waagmoed gepaard gaan. Net soos wat boere dit elke keer met die natuur moet waag, net so moet gelowiges dit met God waag. Min geestelike waagmoed lei tot min geestelike resultate en andersom!
Een van die tekortkominge in baie van ons se geestelike lewe is lae verwagtings. Ons verwag te min van God. Daarom vra ons net klein dingetjies van Hom en daarom vertrou ons Hom vir piepklein geestelike oeste. Lae verwagtings van God en klein saaipogings in sy landerye vertel dat ons geloofslewe eintlik in ‘n winterseisoen vasgevang is. Kom ons raak vry hiervan. Kom ons vertrou God vir groot oeste. Dan trek Hy op sy eie maniere die hemelse sluise bokant ons oop. Kom ons saai gelowig en ruim in God se akker en vertrou Hom vir groot dinge – ‘n deurbraak in die lewe van iemand vir wie ons bid; ‘n bekering; die herstel van ‘n verhouding; nuwe geleenthede in sy koninkryk! God is die God van groot dinge! Kom ons glo dit en saai!
Gebed: Here, help asseblief tog dat ons in geloof sal saai. Gee dat ons as u kinders ruim en waagmoedig in u landerye sal saai.




Comments