God hou van diere ook
Teks: Deuteronomium 22:6-7
Deuteronomium 22:6-7 is aangrypend. Hier in vers 6 hoor die Israeliete dat hulle nooit enige voëlneste mag beskadig terwyl ‘n voëltjie nog op haar eiers sit nie. Ten minste moet sy eers toegelaat word om weg te vlieg. Vers 7 voeg by dat dit goed sal gaan met diegene wat hierdie voorskrif gehoorsaam. Dit is diegene wat nie voëlneste plunder soos wat dit hulle pas nie. Hulle sal ’n lang lewe geniet. Kan jy dit glo! God se gedetailleerde versorging van sy skepping word hier sterk en mooi benadruk.
Die Here hou niks daarvan dat mense sy skepping beskadig nie. Selfs doodgewone voëls wat nog aan die broei is, tel baie vir Hom. So ook honde, katte en al die ander diere in die skepping. God se ganse skepping is kosbaar. Dit moet vir onsself ook die geval wees. Ons godsdiens moet skeppingsdiens insluit. Dit is ons taak om God se wêreld te help oppas. Dit is immers die groot opdrag daar van die begin van die skepping af. Nie eens Adam en Eva se droogmaakepisode in Genesis 3 het hierdie taak en verantwoordelikheid wat aan die mens gegee is ter syde gestel nie. Ons kan dus nooit wegkyk as selfs die kleinste diertjies in die natuur verwaarloos word nie. Of as waterbronne orals rondom ons besoedel word, of as die skepping vergiftig word met koolstofdioksied nie. God verwag van ons elkeen om sy skepping te beskerm. Kom ons doen dit getrou hier in ons eie omgewing.
Gebed: Dankie dat U die Skepper is van alle diere, voëls en visse. Ek meld aan om u natuur getrou op te pas, soos wat U van ons vra.




Comments