Ons is nie gemaak om alleen hysbak te ry nie
Teks: Kolossense 3:14
Ek lees hoe iemand skryf die lewe is soos ’n hysbak. Op pad boontoe moet jy stop en sommige mense aflaai wat bloot net saamry sonder om iets te doen of te beteken. Hulle is maar net daar vir die rit. Toe dink ek by myself dit is darem ’n baie gevaarlike roete om mense links en regs af te laai terwyl jy op pad boontoe is. Want, soos die spreekwoord sê: “Everything that goes up must come down.” Elke mens ook! En dan wag daar moeilikheid, want as jy mense aflaai op pad boontoe, gaan jy hulle dalk nodig hê op pad ondertoe, maar dan gaan hulle nie weer wil saamry nie.
Wie weet, dalk moet ons ons hysbak ’n slag stop en terugkeer na daardie einste vloer toe waar ons vroeër een of twee mense afgelaai het. Soms is ons net te hard op mekaar. Te gou laat ons ander mense onwelkom in ons lewe voel, omdat hulle nie nuttig genoeg vir ons is of was nie. Of omdat hulle ons seergemaak het. Die Here vra van ons dat ons genadig met mekaar moet wees en mekaar moet vergewe. Ons is nie gemaak vir alleen hysbak ry nie. Die Here het ons gemaak vir verhoudings met Hom en met mekaar. Ons moet gedurig brûe na mekaar toe bou. Dalk is die beste manier om die woord “ekskuus” en die sinsnede “ek is jammer!” gereeld in ons eie hysbak te gebruik. O ja, en om Jesus as die belangrikste Persoon elke keer te laat saamry.
Gebed: Ek vra dat U my blinde oë sal oopsluit om ander mense raak te sien en om ander saam te neem op my eie reise deur die lewe.




Comments