top of page

Probeer is nie genoeg nie, geloof moet geoefen word

  • Roedolf Botha
  • Jun 17
  • 3 min read

God is goed. Dit word helder en duidelik in die lewe dood en opstanding van Jesus gedemonstreer. Daarom wil ons ook goed wees. Goed soos Jesus. Trouens, Paulus stel dit uitdruklik dat ons vir goeie werke geroep is. (Ef 2:8-10). Ons besef dit; daarom probeer ons hard. “Ek probeer ...” is die woorde, wat mense dikwels vir my sê, wanneer hulle van ‘n sondige gewoonte, soos ‘n humeur-probleem, bewus raak, of soos ongeduld of sommer net suiwer selfsug. Maar wat ek ook dikwels sien, is dat baie van die wat “probeer”, nie eintlik oor ‘n lang termyn veld wen nie. Die rede is omdat “probeer” nie genoeg is nie. 


Die Jesus-lewe moet geóéfen word.


Daar word vertel hoe die Samoerai-kryger, Nakayama Hakudo, sy swaard vinniger as enige iemand anders uit sy skede kon trek, voordat die vyand presies kon weet wat hulle tref. Sy geheim was eenvoudig: Hy het geoefen, báie geoefen. Sy oefenprogram het onder andere behels dat hy sy swaard tweeduisend maal per dag uitgetrek- en terug in sy skede geplaas het, so vinnig hy kon! Elke sewende dag het hy tienduisend repetisies gedoen! ‘n Ander Samoerai-kundige, Musashi, het beweer dat ‘n aspirantkryger sowat ‘n duisend dae nodig het om aan sy oefenprogram vorm te gee. Daarna benodig hy nóg tienduisend dae om af te rond en daarna is dit ‘n leeftyd van oefen!


Dis merkwaardig om te dink hoe ons as mense dink ons kan hoë hoogtes bereik sonder om te oefen. Die meeste mense beweer dat hulle graag lank en gesond wil leef. Wanneer jy egter vir hulle vra of hulle oefen of gesond eet, dan is daar ongemaklike stiltes en ‘n gestaar na die vloer. Of die vraag word met ‘n grap gedeflekteer. Oefen is natuurlik net so belangrik vir geloof. Paulus sê in 1 Tim 4:7-8 (Nuwe Nuwe Testament): 


“Oefen jouself aanhoudend daarin om ‘n Godvresende lewe te leef. Jy weet fisiese oefening het net vir ‘n kort tydjie waarde. Maar ‘n lewe van Godvresendheid het groot waarde in alles wat jy doen."

Om Jesus te volg, beteken jy plaas jouself in ‘n oefenprogram onder leiding van die Heilige Gees. Wil jy leer bid? Hoeveel keer bid jy? Oefen jy jou gebedslewe? Want jy leer om te bid deur te bid. Báie te bid. Aanhóúdend te bid. Soos Nakayama Hakudo en Musashi. Wil jy graag die Here se stem deur die Bybel hoor? Hoeveel lees jy? Hoeveel kere het jy al byvoorbeeld die Nuwe Testament deurgelees? Ek weet van een persoon, wat die ganse Lukas-evangelie gememoriseer het. Wil jy leer vergewe? Hoeveel keer oefen jy vergifnis? Wil jy graag ‘n skrywer word? Skryf jy gereeld? Oefen jy jouself in afhanklikheid van die Here?


Ons oefen die Jesus-lewe by tye op ons eie, wanneer ons bid, Bybel lees en diep nadink oor Sy Woord, maar meestal oefen ons dit in die gemeenskap van gelowiges, in die gemeente. Ons oefen om te vergewe, wanneer ons seergemaak word. Ons oefen om werklik diep om te gee deur tussen en saam met gelowiges, van wie ons nie altyd baie te hou nie,  te leef, maar ons doen dit omdat Jesus se liefde ons dring. Ons hou aan om mekaar lief te hê totdat ons van mekaar hou. En soos Jesus oefen ons om gereeld, in persoon of op sosiale media, van die “skare” te onttrek, eenkant toe te gaan en te bid. Hier oefen ons om na binne toe te kyk, ons eie pyn en sonde raak te sien, dit voor die Here te lê sodat ons weer kan opstaan en Jesus se liefde nogmaals tussen die mense kan gaan oefen.


En wanneer ons moeg word? Dan dink ons aan Jesus. Ons onthou die Nagmaal. Ons onthou die kruis. Hoe Hy tot aan die einde uitgehou en aangehou het.


En wanneer ons faal? Dan val ons in Sy genade sodat ons kan opstaan en weer probeer, tot aan die einde.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page