top of page

Moenie dink die goeie dinge is altyd jou vriend nie

Roedolf Botha
13 hours ago
3 min read

In die negentigerjare het daar ‘n fliek verskyn wat selfs vandag nog uiters populêr is. Goeie hoofspelers soos Tom Cruise, Demi Moore en Jack Nicholson het die hoofrolle beklee. Ek praat van A Few Good Men. Kortliks was generaal Jessep, gespeel deur Jack Nicholson, skuldig aan ‘n misdaad in die weermag wat hy nie wou erken nie. Dit was Daniel Kaffee en Joanne Galloway, onderskeidelik gespeel deur Tom Cruise en Demi Moore, se taak om hom in die hofsaak skuldig te bewys. Dit was ‘n moeilike taak en Jessep was ‘n uiters intelligente en glibberige getuie om te ondervra. Op ‘n baie spesifieke oomblik in die hofgeding, sê Kaffee vir Jessep: “I want the truth!”


‘n Hardgebakte en arrogante generaal Jessep reageer passievol terug: 

“You can’t handle the truth!”


Wat hy natuurlik bedoel het, is dat die waarheid so skokkend en verrassend vir die mense in die hofsitting sal wees dat dit ‘n steierende impak op enige normale hoorder sal hê. En in sy geval was die waarheid werklik skokkend vanweë die euwel waaraan hy skuldig was.


Sy stelling aangaande die waarheid is egter nie summier verkeerd nie. Dis soms uiters waar, veral in ‘n geestelike konteks. Jesus was en is steeds die uiteindelike Waarheid.

Maar so baie mense hou steeds nie van Hom nie en steeds is Hy deur die skares en magtiges van sy dag verwerp. Jesus is nie almal se Vriend nie, selfs al nooi Hy almal om te wees. Sommige mense se sondige aard is net so dat, al sê hulle hulle soek die waarheid, hulle gaan bied wanneer hulle oor dit struikel. Dikwels is die waarheid iets wat hulle uiters ongemaklik kan maak en geheel en al teveel van hulle kan eis. Baie keer wanneer ons die waarheid oor enige iets hoor, hou ons nie daarvan nie. Baie keer probeer goeie mense my die waarheid oor myself vertel waarvoor ek blind is. En die selfsug en ego in my haat dit. Ek sê heeltemal te vinnig: Ek soek net die waarheid. Asof ek en die waarheid altyd geswore bondgenote sal wees. Die waarheid is natuurlik uiters bevrydend. Dit het Jesus self gesê. Alhoewel Hy van Homself gepraat het, moet ‘n mens weet dat, omdat die waarheid ons ontbloot, weerstaan ons dit ook. Meer as dit. Soms kom ons selfs gepantser teen die waarheid kerk toe. Die waarheid is soms net te pynlik. Daarom moet ‘n mens ‘n uitermate intense en intensionele soeker na alle waarheid  te alle tye wees, terwyl jy Jesus as Waarheid onvoorwaardelik volg, indien jy werklik in alle gevalle gereed wil wees om dit te hoor!


Generaal Jessep is reg: “We can’t handle the truth!”


Ons kan slegs die waarheid leer handle, as ons herinner word dat Jesus self die harde waarheid oor die mense se sonde kom handle het. Aan die kruis handle God ons sonde, alle leuens, alle geweld, misdaad en lyding. Dit bring vir ons genade. Genade en waarheid gaan saam. Sonder genade is die waarheid verdoemend! Wanneer ons in genade leef, weet ons ons is veilig met die waarheid, al maak dit ons aanvanklik seer en al ontbloot dit ons skynheiligheid of ons foute. Want uiteindelik bevry Jesus ons daarmee.


Daarom behoort ons aan te hou om mense te vra om ons aanspreeklik te hou, om ander aanspreeklik te hou. Want die Waarheid het mens geword en ons Vriend geword. Ons hoef nie meer liggeraak te wees nie. Ons is veilig by Jesus. Want Hy het die waarheid oor ons en die wêreld ge-handle!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page