Een ekstra feit kan al die verskil maak
As volgelinge van Jesus as die Waarheid, moet ons werklik meer aandag gee aan die akkuraatheid van ons uitsprake, nie net op sosiale media nie, maar ook in gesprekke, vergaderings en konferensies. As daar in hierdie opsig ‘n moet kyk vir fliekgangers is, is dit die fliek Pressure, wat handel oor die weerkundiges wat die weer moes voorspel met die oog op D-day, die geallieerde magte se inval in Normandië tydens die Tweede Wêreldoorlog. Wanneer ‘n mens na die fliek kyk en daarna die geskiedenis lees, dan besef jy vinnig dat hierdie geen geringe of eenvoudige taak was nie. Ons weet vandag dat die baie bekende inval op die 6de Junie 1944 was, maar die aanvanklike plan was om Normandië op die 5de, een dag vroeër, in te val.
Alles was gereed vir die 5de Junie. Die planne was beraam, die hordes verskillende afdelings, soos vliegtuie, skepe en voetsoldate was gereed en op hulle plek, wagtend op die bevel om die aanval te begin.
Wat het hulle teruggehou?
Slegs die weer.
Die aanvoerder van die geallieerde magte, generaal Dwight Eisenhauer, moes seker wees dat die son gaan skyn en die wind stil genoeg gaan wees. Indien golwe byvoorbeeld hoër as vier voet op die strand sou wees, sou alles misluk. Die bote sou wegspoel, voetsoldate sou sukkel om op droë grond te kom terwyl hulle voor die voet afgemaai word. Die vliegtuie sou nie kon sien waar om hulle valskermsoldate te laat uitspring nie. Alles moes presiés reg verloop, anders sou dit ‘n katastrofe in plaas van ‘n oorwinning wees.
Eisenhauer het egter een ekstra groot kopseer gehad wat hy nie voorsien het nie: sy twee hoofweerkundiges het nie saamgestem nie. Irvin Krick, ‘n getroue gesant van Eisenhauer, het na die data gekyk en beweer dat die weer op die 5de Junie sou saamspeel. Die son sou skyn, die wind sou stil wees en die pad oop. En ... hy het sy feite agter mekaar gehad. Hy het baie feite gehad. Báie. Hy het gekyk na weerpatrone oor die vorige vyftig jaar. In sy voorlegging aan die span offisiere het hy die een datum na die ander genoem waar die weer die patroon gevolg het wat hy voorspel het.
Na Krick se indrukwekkende voorlegging draai Eisenhauer na sy ander weerkundige, James Stagg, ‘n Skot, en vra: “What is your reaction?”
Stagg uiter aanvanklik net een sinnetjie:
“Krick didn’t mention 1916.”
Dan verduidelik hy dat die weerpatrone in 1916 die teorie van Krick geheel en al ondermyn. Hy verduidelik verder en maak die aanspraak dat daar ‘n storm op die oggend van die 5de Junie gaan wees. Almal rol hulle oë terwyl hulle na buite kyk en sien hoe heerlik die son buite skyn. Daar kan tog nie ‘n storm opsteek nie! Stagg is van sy sinne beroof! Of is hy?
Op die oggend van die 4de Junie stap al die offisiere in die helder sonskyn kerk toe. Baie simbolies. Terwyl hulle in die kerk sit en lofliedere sing, begin die wind buite waai, die lug trek toe en die weer steek op. Binne ‘n paar minute reën dit kliphard en die weerlig verlig die ganse atmosfeer!
Stagg was reg. Krick was verkeerd. As gevolg van slegs een feit wat hy misgekyk het.
D-Day is van die 5de Junie na die 6de uitgestel.
Stagg was reg, nie omdat hy slimmer was nie, maar omdat hy ’n vollediger prentjie gehad het. Hy was nie geïnteresseerd om die generaals tevrede te stel nie. Hy was soekend na die waarheid, die volle waarheid. Daarom het hy ook die feite probeer opspoor wat hy nie wou hoor nie.
Dis tyd dat Jesus-volgelinge hierdie realiteit leer verstaan: dit maak nie saak hoeveel “feite” of “argumente” jy in jou sak het, as jy nie na die opposisie geluister het nie. Die vraag is dus nie altyd hoeveel feite het ek (of die ander persoon) nie.
Die vraag is eerder: watter feite het ek nié? Al weet ek baie, oor watter kennis beskik ek nié? Het ek regtig geluister na die dit wat ek nie wil hoor nie? Dikwels sit ek in ‘n konferensie waar iemand indrukwekkende statistieke en feite rondgooi. Dan wonder ek altyd watter feite hy nie vir ons deurgee nie, want dit kan ‘n hengse verskil maak. Dit geld vir gelowiges, maar ook vir skeptiese nie-gelowiges.
Soms het ons ‘n hele rits Bybelverse in ons guns. Die vraag is egter watter dele van die Bybel mis ons? Watter tekste noem ek nie? Want daardie een ontbrekende geestelike perspektief kan al die verskil in die wêreld maak. Veral in ‘n tyd waar mense die Bybel so swak ken soos vandag!
Hierdie beginsel geld natuurlik nie net vir geestelike of teologiese gesprekke nie. Dit geld vir enige area van werk, sport of interaksie met mense.
Wanneer ons dus beweer dat ons Jesus as die Waarheid volg, moet ons dalk ietwat meer deeglikheid en nederigheid aan die dag lê.




Comments