top of page

Geregtigheid is nie genoeg nie

Roedolf Botha
6 minutes ago
2 min read

Daar is ‘n groot verskil tussen die geregtigheid waarvan die wêreld praat en die geregtigheid wat die Nuwe Testament van praat. Ek hoor deesdae baie mense van geregtigheid praat. Hulle soek geregtigheid na die inbraak, wanneer hulle te na gekom is, wanneer hulle afgedank is, wanneer iemand hulle mislei het. Gelowiges praat selfs hatig oor hoe ander mense “reggesien” moet word in die naam van geregtigheid. In die BBC reeks Father Brown sien ek nou die dag iets soortgelyk. ‘n Bepaalde vrou in die klein dorpie word deur ‘n skurk ingedoen, maar ook gedeeltelik as gevolg van haar eie sonde en foute. Die geliefde Katolieke priester, Father Brown, verseker haar dat God bereid is om haar te vergewe. Hierop antwoord sy:


“It’s not forgiveness I want, Father. It’s justice.”

Dis wat baie mense in die samelewing wil hê: geregtigheid sonder die herstel van ‘n verhouding. Hulle bedoel daarmee die herstel van hulle eie reg, sonder noodwendige vergifnis. En dit sê hulle terwyl hulle die Bybel aanhaal, of praat oor hulle geloof asof hulle praat van die Here se geregtigheid. Hier is egter hoe jy die menslike idee van geregtigheid van Jesus se geregtigheid kan onderskei: 


God se geregtigheid het altyd versoening as die einddoel in die oog.

Die Christen-filosoof / teoloog, Miroslav Volf, het op ‘n stadium daarop gewys hoe nutteloos dit vandag is om na geregtigheid, veral op politieke front, te verwys. Die probleem is dat almal dink geregtigheid is aan hulle kant. Sommige blankes in Suid-Afrika pleit vir geregtigheid, want alles word nou weggegee vir groepe van kleur. Sommige mense van kleur pleit vir geregtigheid, want die blankes het steeds al die ekonomiese mag. Oekraine soek na geregtigheid, asook Putin. Israel soek na geregtigheid, asook die Palestyne. Trump-aanhangers glo Trump gaan geregtigheid terugbring. Trump-teenstaanders wil hom ter wille van geregtigheid onttroon. Geregtigheid kan dus baie subjektief wees. 


Hoe onderskei ons dan wat ware Jesus-geregtigheid is teenoor ‘n sekulêre verstaan van geregtigheid? Wel, God se geregtigheid het altyd versoening in gedagte. God se geregtigheid is aan die kruis vervul sodat die wêreld nou met God versoen kan word. Al die inisiatief in die Bybel wat deur God geneem word, staan in diens van verhoudings. Die lewe saam met die God van Jesus, is ‘n verhoudingslewe, ‘n lewe van versoening waar ons Jesus volg om die hele wêreld met Hom te versoen. Iemand wat nie sy vyand wil vergewe nie, wat nie die verhouding nog ‘n kans wil gee nie, is nie agter Jesus se geregtigheid aan nie. 


Aan die kruis het Jesus nie vir geregtigheid geskree nie. Hy’t gesê: “Vader vergewe hulle”, want Hy was op daardie oomblik besig om die prys vir almal se geregtigheid te betaal sodat ons ook hierdie gebede oor ons vyande kan bid.


Enige iemand, wat skree vir Jesus-geregtigheid, sal ook bid: “Vader, vergewe hulle ...”

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page