top of page

Onskuldig! Ja, jy!

  • Stephan Joubert
  • Jun 13
  • 1 min read

Teks:  Romeine 3:23-24


Hofsake gaan uiteindelik oor die vraag: Skuldig of onskuldig? Ook in die hemelse regsaal is dit die finale vraag. Ons almal sal hierdie vraag eendag moet aanhoor as ons voor God staan. Wel, hier’s slegte nuus: Niemand, wat hulle eie saak voor God op daardie dag behartig, gaan dit maak nie. Niémand nie! Ons almal is skuldig. “Guilty as charged,"sê Paulus in Romeine 3:1-20. Ons oortredings is hemelhoog opgestapel as getuienis teen ons. Nie een van ons doen genoeg goeie dinge om ons op daardie dag deur te sien nie. Nie een van ons leef regverdig genoeg nie.


Wag, voordat jy die handdoek ingooi: Daar’s goeie nuus ook. Hierdie nuus is so groot dat dit jou tot in ewigheid sal dra, as jy dit glo. Ek praat van daardie goeie nuus dat jy onskuldig uit die heel hoogste hof in die heelal kan stap. Jy kan vir ewig skotvry in God se teenwoordigheid leef. Nog beter: Jy kan dit nou al weet. Ja, jy het reg gelees: hier en nou kan jy weet die straf geld nie meer nie. Die vonnis is opgehef, want Jesus het die straf in jou plek voor God gedra. Hy het met Sy bloed al die getuienis teen jou in die hemelse boeke uitgewis. Glo dit. Glo in Jesus met jou hele lewe. Dan is die hofsaak oor en verby. Dan gaan Jesus jou op die laaste dag veilig uit die regsaal na jou ewige tuiste begelei.


Gebed:

Dankie, Christus, dat U my vryspraak voor die Vader is. Dankie dat ek op U tot in ewigheid kan reken.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page