top of page

Spasie of tyd? Of dalk beide?

  • Stephan Joubert
  • Jun 20
  • 2 min read

Teks: Kolossense 3:17


Dit is een ding om tyd te maak vir iemand, maar dis iets totaal anders om spasie vir hom of haar te maak. Om tyd te maak, moet jy eintlik net jou dagboek se aktiwiteite so ’n bietjie rondskuif. Om plek te maak, moet jy egter jou lewe rondskuif. Van tyd gepraat - dit is nie so moeilik om vir God tyd in te ruim nie. Al wat dit van die meeste mense vra, is ‘n uurtydgleuf  iewers op ‘n Sondagoggend. Of ‘n 30 sekondegebed voor elke ete. Of vyf minute vir stiltetyd voor slapenstyd. Maar dit is iets heeltemal anders om vir God spasie te maak. Dan moet die prioriteite in jou lewe aanpas en verander. 


Wanneer die Here van jou vra dat jy alles, wat jy sê, tot Sy eer moet sê, soos wat Paulus in Kolossense 3 twee keer skryf, dan vra dit al die spasie op jou tong. Dan is jou woorde skielik nie meer joune om daarmee te maak wat jy wil nie. Wanneer God vra dat jy alles van nou af eksklusief tot Sy eer sal doen, dan neem dit al die spasie op in jou daaglikse lewe op. God is nie net met jou tyd tevrede nie, want dan kan jy steeds dit met jou eie spasiebestuur vul. Hy vra al jou leefspasies - dan word jou tyd ook Syne. Dan is jy regtig voluit in Sy diens. Dan leef, praat en werk jy tot Sy eer.  Doen dit. Gee jou spasie en tyd vir Hom.


Gebed:

Heilige Here, al my tyd en al die spasies in my lewe is U s’n. Ek gee dit alles aan U.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page