top of page

Die evangelie vra jou telefoonnommer

  • Stephan Joubert
  • 1 day ago
  • 2 min read

Teks: Psalm 37:21


'n Onderwyseres vertel my van ’n briefie, wat sy een keer van ‘n skolier gekry het,  wat nie sy huiswerk gedoen het nie. Hy het egter ‘n huilende gesiggie bo-aan die briefie geteken en geskryf dat hulle geen kos in die huis oorhet om te eet nie. Sy ma het nie ‘n kar nie en hyself moet elke dag ver stap skool toe. Toe besef die juffrou dat dit niks sal help om iets te sê soos: “Ek dink aan julle” nie. Ook sal dit nie help om te sê: “Ek sal vir julle bid” nie. Sy het geweet syself moes daardie dag die antwoord op hierdie kind se nood wees. Syself moes in die oplossing vir daardie huilende gesiggie voor haar op die brief verander. Genadiglik het sy dit nie iemand anders se probleem gemaak, soos wat baie mense graag doen nie. Sy het dadelik ingespring en kos vir daardie honger gesin gaan koop. 


Dit is goed en reg om vir mekaar te bid, maar ons moet ook die Here se konkrete antwoord op ons eie gebede vir hulle wees. Die evangelie moet altyd ons hande en voete in beweging bring. Ons deernis en omgee moet oorgaan in konkrete hulp in die Here se Naam. Ons moet een van Sy aardse noodnommers wees. As dít gebeur, verhoog ons eie geestelike waarde op al die regte plekke. Dan groei ons invloed in die Here se teenwoordigheid en in die lewens van ander. Dan tel ons geloof punte daar waar dit regtig saak maak.


Gebed:

Heer, gee dat ek vandag U noodnommer sal wees. Wys my hoe en waar ek vir diens moet aanmeld.

コメント


この投稿へのコメントは利用できなくなりました。詳細はサイト所有者にお問い合わせください。
bottom of page