top of page

Nie net praat, praat nie - ook doen, doen

  • Stephan Joubert
  • Aug 22
  • 2 min read

Teks: 2 Korintiërs 8:9


“All we ever do is talk, talk!”- het ’n bekende popgroep ’n paar jaar gelede gesing. Net so! Praat is goed, maar praat sonder doen, is soos om te sit sonder om te loop. Of soos om rond te staan sonder om ooit iewers heen op pad te wees. Die bekende Engelse uitdrukking sê juis: “Don’t just stand there - do something!” Te veel praat lei tot te min doen. In ons as gelowiges se lewe moet woorde gedurig in dade verander, in die régte soort dade. Ons dade en gedrag moet liefde-aangedrewe wees.


Ons leer by Jesus hoe om in liefde te leef. Ware liefde se oorsprong is in God en in die voorbeeld van Jesus geleë. In Jesus se onselfsugtige lewe en in Sy sterwe aan die kruis vind ons die regte bloudruk vir liefde. Christus het Sy eie lewe hier in ons plek prysgegee. Hy, wat skatryk was, het arm geword sodat ons nou in God ryk kan wees. Nee, Jesus het nie maar net goeie wense laat weet uit die hemel nie. Hy het nie maar net gesê Hy dink aan ons nie. Jesus se liefde het dade geword. Ons moet soos Hy leef. Onselfsugtige dade moet ons lewe kenmerk. 1 Johannes 3:16-17 sê juis as God se liefde in ons harte is, dan kan ons nooit ons harte toesluit vir ander wat nood ly nie. Anders jok ons. Anders is ons geloof ‘n klug. Daarom weet ons die roete van die liefde strek altyd vanaf praat tot doen.


Gebed:

Here Jesus, U wys vir ons hoe lyk liefde. Ons kies om dit agterna te leef. Help ons asseblief hiermee. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page