Vat die Forrest Gump-roete
Teks: 1 Timoteus 6:11
Onthou jy nog daardie fliek, “Forrest Gump”? Hy was mos die ou wat ook regoor die VSA gehardloop het. Al wat Forrest gedurig vir homself gesê het, is: “Run, Forrest, run!” En hy het ook. Hy het gehardloop dat dit klap. Wel, dit is ook wat Paulus vir Timoteus en vir elke ander gelowige in 1 Timoteus 6:11 sê. Hy sê ons moet hardloop. Hoekom? Nee, die vraag is eerder van wat of wie af? Sonde, dis wat! Ons moet van sonde af wegvlug. Ons moet sorg dat ons en sonde nooit op dieselfde tyd op dieselfde plek is nie. Dan wag daar groot moeilikheid op ons, want sonde is nooit ons speelmaat nie. Dit is altyd gevaarliker en sterker as onsself - dit is as nou ons in ons eie kragte hierteen wil staande bly.
Om maar net van sonde af te probeer weghardloop, is egter nog nie genoeg nie. Ons moet in dieselfde asem ook ná Iemand toe hardloop, na Christus toe. Dan eers is ons veilig. Dan is sonde altyd en orals ten minste een tree te stadig vir ons. Dan verloor versoekings die resies. Want Christus is die Here wat ons bewaar van die Bose en van al sy vangnette. Die groot vraag is: watter verkeerde dinge in die lewe kry jou elke slag onder? Gebeur dit omdat jy nog nie besluit het om te begin weghardloop nie? Dan is vándag die dag om te laat spaander, maar hardloop asseblief in die regte Rigting. Hardloop na die Here toe. Hy is jou veilige vesting.
Gebed: Jesus Christus, ek hardloop reguit na U toe. Ek vlug weg en reg. Ek vlug na U toe.




Comments