Nie gebou-gevangenes nie
- Stephan Joubert
- 6 days ago
- 2 min read
Teks: 1 Korintiërs 6:19
“Niks het verander nie. Daar word steeds besigheid gedoen, maar nou kry ‘n mens ten minste iets waarvoor jy betaal het.”
So lui een stukkie siniese kommentaar onder ’n foto van ’n kerkgebou in Bloemfontein wat onlangs omskep is in ’n motorhandelaarskap. Hierdie internasionale tendens is nou ook ’n plaaslike realiteit. Een Nederlandse dagblad het juis ’n paar jaar gelede berig dat daar reeds meer agnostici as gelowiges in die land is en dat sowat 100 kerkgeboue per jaar verkoop word.
Vir mense wat jare lank lidmate in gemeentes was wat tot niet gegaan het, is die verkoop van hulle kerkgeboue traumaties. Maar dalk moet ons anders hieroor dink. Ons moet weer die basiese Nuwe Testamentiese lering ontdek dat religieuse geboue nie God se aardse adres is nie. Paulus is op rekord in 1 Korintiërs 3:16 en 6:19 dat ons as gelowiges die tempels van God en Sy Gees is. God word nooit vasgekluister in geboue nie. Kerkgeboue is nie “die huis van die Here”, soos wat mense dikwels sê nie. Daarom kan die huis van die Here voortbestaan, selfs al word kerkgeboue verkoop. Die kerk se roeping is nie om eie religieuse spasies los van die res van die wêreld in stand te hou nie. Die koninkryk van God is orals aan’t gebeur, waar ons as God se kinders onsself bevind. God se koninkryk is nooit in die moeilikheid nie, selfs al maak sekere gemeentes toe. As ons dit snap, word ons nooit vasgevang in ons eie religieuse spasies nie. Dan is ons orals aan diens vir Jesus.
Gebed:
Ons is U gebou en u tempel, Heilige Gees. Vervul ons opnuut met U heerlikheid en U krag.




Comments