top of page

’n Kaal kruis en ’n leë graf vertel alles oor my geloof

  • Stephan Joubert
  • 12 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Galasiërs 3:10


Jesus se kruis is nie so “dierbaar” soos wat ons dink nie. Paulus noem die kruis van Jesus ‘n plek van vervloeking (Galasiërs 3) en ’n plek van swakheid (2 Korintiërs 13). Tog is dit juis daar aan die hout van Golgota dat God se genade die hemelse walle eens en vir altyd oorstroom. In Jesus se lyding word God se redding vir altyd oopgesluit. Verstaan jy nou hoekom die dood Hom nie gevange kon hou nie? Wanneer Jesus se lyf daar aan die kruis stukkend gebreek word en Hy die hekke van die dood uit die pad loop, swaai die hemelse brandkluis van genade wawyd oop. God het Sy Kind se offer aan daardie vloekhout as volle betaling vir al ons skuld en gemors aanvaar. Jesus se Godheid veroorsaak dat nog die kruis, nog die dood sterk genoeg is om Hom vir altyd gevange te hou. By die kruis word alle uitstaande aardse rekenings teen ons afbetaal. Glo dit! Aanvaar dat die skuld teen jou lewe vereffen is, vir altyd. Weet dat jy ‘n nuwe begin, ‘n tweede Genesis, by God ontvang het. Dit alles het gebeur omdat Jesus een goeie Vrydag aan ‘n vloekhout gehang het en op daardie Sondag uit die dood herrys het. Die kaal kruis en die leë graf is jou hoop. Dit getuig dat Jesus nou die Here is wat alle mag in die hemel en op aarde in Sy hand het. Die kruis sluit die lewe na Hom toe oop, hier en nou, maar ook vir altyd. 


Gebed: Dankie vir die kruis. Dankie vir die leë graf. Dankie dat U nou die Here is wat daar in die hemel heers. Dankie dat U dit vir my ook gedoen het.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page