top of page

Staan uit vir Christus; leef vir Christus!

  • Stephan Joubert
  • 21 minutes ago
  • 1 min read

Teks: 2 Korintiërs 5:17


Ek onthou die woorde: “As jy nie staan vir iets nie, dan val jy vir letterlik enigiets.” Ek weet nie meer wie het dit gesê nie, maar dit is die reine waarheid. Ek sou hierdie stelling ook verder wou aanpas: “As jy nie staan vir Iemand nie, dan val jy vir enigiemand se stories.” Hierdie Iemand is die Here. Om in Hom vas te loop, is lewensveranderend. Daarna is jy nooit weer dieselfde nie. Dit is soos ‘n kop-aan-kopbotsing, ’n noodlottige een. Om in Christus vas te loop, maak dat jou ou self daar en dan sterf. Daar staan ‘n nuwe jy op in ‘n nuwe lewe.


Om Christus te leer ken as die Here, is nie maar net om ‘n paar duikklopwerkies aan jou ou self te laat aanbring nie. Dit is om oor te begin met jou hele lewe. Dit is om te weet dat jy nou ‘n nuwe skepping is, soos wat Paulus in 2 Korintiers 5:17 skryf. Dan is alles nuut omdat jy nuwe oë en ’n nuwe hart gekry het. Jy leef dan op nuwe maniere vir God. Jy loop op nuwe paaie en jy dink nuwe dinge. Christus self gee nuwe betekenis aan jou lewe. Nee wag, Hy is die somtotaal van alle betekenis in jou lewe. Hy is die Here. Hy is jou hoop en jou troos. Nou en vir altyd. Daarom staan jy altyd op vir Hom. Daarom staan jy altyd uit vir Hom. Daarom leef jy altyd vir Hom.


Gebed:

Christus, U is my lewe. Ek staan vir U. Ek leef vir U. U is die Heer van my hele lewe.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page