top of page

Laat die regte afdrukke agter

  • Stephan Joubert
  • 23 minutes ago
  • 1 min read

Ons almal laat afdrukke agter. Meestal is dit ons vingerafdrukke. Ons laat egter meer as sulke fisiese afdrukke agter. Ons laat ook herinnerings as afdrukke agter. Soms is sulke afdrukke pynlik. Iewers langs die lewenspad het ons ander mense seergemaak of goor behandel. Soms weet ons dit, maar soms ook nie. Hoe dit ook al sy, sover dit van ons afhang, moet ons dinge weer gaan regmaak. Die Here vra dit van ons. Om afgebrande brûe te herbou, is altyd die regte ding om te doen. Dan vervang ons verkeerde afdrukke met die regte soort.


Genadiglik laat ons ook derduisende goeie afdrukke op ander mense agter. Sonder dat ons dit besef, het ‘n vriendelike woord of ‘n klein daad van hulp op die regte tyd ander mense se laste sommer baie ligter gemaak. Ander kere was dit net ons daar wees vir hulle, wat die wêreldse verskil gemaak het. Of ‘n gebed. Of ’n vriendelike woord. Dit is presies die regte afdrukke. Dit is die regte impak, wat die Here van ons vra. Goddank dat sulke afdrukke ook ons lewe kenmerk. Kom ons spesialiseer vandag hierin. Kom ons maak doelbewus die regte afdrukke wanneer ons met ander mense te doen het. Kom ons behandel hulle met die liefde van die Here. Kom ons wees geduldig en vriendelik. Kom ons wees belangstellend en gasvry. Kom ons tel iewers ’n swaar las van iemand se skouers af. Kom ons help iemand anders wat finansieël swaar kry. Wie weet hoeveel sulke afdrukke verkry dalk ewigheidswaarde in ander se lewens. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page