top of page

Leef eerbaar eerlik

Stephan Joubert
11 minutes ago
1 min read

Adrienne Rich (1929-2012), ’n digter van weleer, verbind die woord liefde aan wat sy noem “honorable human relationships.” Sy sê dat enige uitdrukkings van liefde binne sulke verhoudings ’n delikate proses is, “… often terrifying to both persons involved, a process of refining the truths they can tell each other”. Inderdaad! Alle verhoudings wat gekenmerk word deur nabyheid en intimiteit, vra om eerlikheid. Ons elkeen benodig sulke eerlike verhoudings in ons lewe. 


Van eerbare verhoudings gepraat, die Here vra van ons om in liefde binne alle verhoudings te leef. Hierdie liefde, of agape (soos wat die Griekse term hiervoor lui), omvat meer as net goeie gevoelens teenoor mekaar. Agape is onvoorwaardelike lojaliteit. Daarom vra agape aanhoudende wilsbesluite aan ons kant om daar vir mekaar te wees. Dit vra eerlikheid en nabyheid. Dit vra van ons om die wind in mekaar se seile te wees. Agape vra ook ’n oop hand, ’n sagte kyk en ’n luisterende oor. Dit vra van ons om mekaar se voorbidders, teregwysers, opbouers en aanmoedigers te wees. 


Die Here se liefde, wat in ons harte uitgesort is, veroorsaak dat ons die lewenspad met integriteit aandurf en dat ons met integriteit tussen ander en vir ander leef. Ons leef die evangelie van Christus reg en mooi as ons ander eerbaar en eerlik liefhet. Dit verander ons in veilige hawens in ’n onveilige wêreld. Dit maak dat ander in ons nabyheid altyd veilig voel. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page