Wanneer die Regter kies om die regbank te verlaat
Die Bybel vertel gereeld vir ons dat God ook ’n regter is. Hy het die mag om te oordeel en Hy doen dit ook. Dit is veral op die dag van die Here dat Hy sy regterlike funksie finaal gaan voltrek. Die Bybel sê alle mense sal op daardie dag voor Hom kom staan. Maleagi 4:1-3 beskryf daardie dag as ’n dag wat brand vir goddeloses, maar ook as ’n dag van sonskyn en redding vir regverdiges.
Ons lees in die Nuwe Testament dat Jesus ook as Regter optree. In Handelinge 10:42 verneem ons dat God Hom as regter oor lewendes en dooies aangestel het. Wat ’n reuse aanstelling! Jesus is die Een wat die finale besluit gaan fel. Almal gaan voor Hom staan. Tereg praat Paulus ook in 2 Korintiërs 5:10 van die regterstoel van Christus. Maar hier’s ’n nuusflits: Jesus gaan sy regterstoel ook op die laaste dag verruil vir ’n ander rol. Hy gaan van sy regterstoel af opstaan en as pleitbesorger en redder optree vir almal wat in Hom glo. Daarom skryf Paulus in 1 Tessalonisense 1:10 dat ons vir Christus as redder uit die hemel wag. Dit is Hy wat uit die dood opgewek is en deur wie ons van die komende oordeel gered sal word. In dieselfde asem vertel Paulus in 2 Korintiërs 5:17-21 dat dieselfde Christus wat op die regterstoel sit (vers 10), ook die Een is wat versoening tussen ons en God bring. Omdat Hy aan die kruis as sondaar behandel is, kan Hy nou reeds, maar ook op die laaste dag in ons plek kom staan. Hier en nou, maar ook op die laaste dag, spreek Christus ons vry omdat ons glo. Wat ’n genade: ons Regter is ook ons Redder!




Comments