top of page

Die twee dinge wat goeie besluite verhoed

  • Roedolf Botha
  • Mar 18
  • 3 min read

In die vorige nuusbrief het ons gesien hoe Edwin Friedman waarsku dat leiers hulle waagmoed verloor in tye van broodnodige besluitneming en aksie. Hierdie waagmoed om die nodige, dapper besluite te neem, verlaat leiers dikwels wanneer hulle gekonfronteer word met ‘n spanlid wat emosionele druk uitoefen, of wanneer die leier ander sosiale drukkragte beleef, soos om polities korrek te moet optree. Friedman verduidelik dat daar sterk onderliggende angs in die samelewing heers en dat hierdie angs leiers se harte soms so domineer dat hulle aan besluitnemingsverlamming ly. Soms heers hierdie verlamming op ‘n onbewustelike vlak en die leier is nie eers bewus van die subtiele vrees wat in hulle binneste tier nie.


Volgens diep en uitgebreide navorsing, gedoen deur Friedman en sy span oor dekades heen, neig so ‘n durflose leier dan na twee “coping” meganismes om vir die uitstelling van sy besluite te kompenseer. Navorsing toon dat hierdie “coping” meganismes die organisasie nie help nie en alles bloot erger maak:


  1. Oorafhanklikheid van en steun op data-versameling en meningspeilings

Wanneer ‘n leier angstig en huiwerig raak om die nodige besluite te neem en tot aksies oor te gaan, dan oortuig hy homself baie gou dat hy nie al die “feite” het om ‘n goeie besluit te kan neem nie. Hy oortuig homself omdat hy nie ‘n “outokratiese” leier wil wees nie, hy ‘n meer “demokratiese” weg moet volg. Terwyl hy onder die waan verkeer dat hy meer demokraties wil wees en “meer ingeligte besluite” wil neem, word daar nou gegryp na empiriese studies en meningspeilings. Hy vertrou dus nie sy eie en die span se ervaring en vermoë om die regte besluit te kan neem nie. Volgens Friedman sou dit baie beter wees vir die heil en welsyn van die maatskappy indien die leier so spoedig moontlik aksie sou en die risiko neem as om tyd te spandeer om nog data versamel. Selfs in ekstreme gevalle, waar die besluit nie die beste een was nie, toon die navorsing aan dat dit steeds beter vir almal is dat ‘n besluit ten minste geneem is. Daar kan altyd weer regstellings gemaak word indien nodig.


  1. Die verkeerde soort empatie

Hierdie punt oorvleuel effens met die vorige nuusbrief se punt. Ons het egter nog nie gepraat oor “toksiese empatie” nie. Laasgenoemde vind plaas omdat daar ‘n personeellid in die span is wat slagoffer speel en almal se empatie probeer kry. Sy slegte gedrag word dan weggesteek agter soveel “emosie, hartseer en slagofferskap” dat die leier nie oor die waagmoed beskik om die persoon aanspreeklik te hou vir sy aandeel in die gemors nie. Die leier oortuig homself dan dat hy self ‘n goeie mens is en eerder die oortreder met meer liefde en empatie moet oorlaai. Ons het voorheen gesien dat hierdie uitweg nie altyd produktief is nie. Some lê die probleem nie by die leier nie, maar by die werknemer wat sy sake in orde moet kry, anders groei hy nie terwyl hy die maatskappy gevange hou nie.


Ek wil in hierdie laaste deel twee geestelike eienskappe noem wat by so ‘n leier ontbreek en wat ons as geestelike leiers moet aanleer. In die eerste geval waar daar ‘n oorafhanklikheid van data is, moet ‘n geestelike leier geloof openbaar. Die soort van geloof wat uitloop op die neem van dapper en deurdagte risiko’s. Daar is geen geloof sonder risiko’s nie. Vertroue op die Here vra nie in die eerste plek watter besluit veilig is nie, maar eerder watter besluit is nodig?


In die tweede geval moet geestelike leiers ophou dink dat God van hulle verwag om “nice” te wees. “Nice”-heid is nie dieselfde as liefde of Jesus-empatie nie. Liefde stel die welsyn van die ander persoon voorop, al beteken dit om soms onpopulêr te wees. Die liefdevolle en volwasse ding is somtyds om die nodige dinge te sê. Natuurlik beteken liefde soms dat ons ook “nice” moet wees, maar in ander gevalle beteken dit juis dat ons bereid moet wees om die vark in die verhaal te wees. Soos Jesus. Jesus was altyd liefdevol, maar nie altyd “nice” nie. Soms het Sy liefde Hom tot ‘n heilige woede gedryf. Ander kere weer was Hy sag, teer en empaties.


In ons wandel saam met die Here moet ons as leiers seker maak dat ons nie net die eienskappe van Jesus volg wat ons pas nie. Ons moet die volledige Jesus volg, die Een van die Bybel.


Hy is nie net die Lam wat geslag is nie, maar ook die Leeu van Juda.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page