top of page

Hoe weet ‘n leier wanneer die organisasie vassit?

  • Roedolf Botha
  • Apr 16
  • 2 min read

As daar een ding is wat die nuutste tegnologiese ontwikkeling, soos Kunsmatige Intelligensie, ons leer, is dit dat leiers moet sorg dat hulle gemeentes of organisasies byhou en aanhou innoveer. Baie besighede of spanne beleef egter tye van stagnasie, sonder dat die leier besef wat aan die gang is, of terwyl die leier so in ontkenning leef dat hy nie werklik die waarheid in die gesig staar nie. 


Maar wat is die aanduiders dat ‘n organisasie in die modder vassit? Hoe weet ‘n span leiers wanneer hulle dringend en drasties ‘n nuwe rigting moet inslaan? Edwin Friedman noem drie simptome, wat aandui dat daar dringende hervorming nodig is.


  1. Probeer harder in plaas van slimmer.


In die afwesigheid van kreatiwiteit of intelligente besluite, is die enigste antwoord wat ‘n organisasie se leiers raaksien om eenvoudig harder te werk en meer te probeer doen. Hulle voel immers die druk en voel hulle moet iets doen. Die probleem is egter dat “harder probeer” steeds net harder in die verkeerde rigting is. Wat nodig is, is dat leiers die openheid sal ontwikkel om te erken dat hulle nie weet wat nodig is om te weet nie. Hulle sal dus na buite hulle eie poel van wysheid, na radikale nuwe invloede van elders af kyk.


  1. Fokus op kitsantwoorde, eerder as goeie vrae.


Wanneer die openheid nie ontwikkel word om drasties nuut te dink nie, word daar uit desperaatheid gegryp na enige iets wat in die oomblik goed klink, al is dit nie die beste ding nie. Leiers wat nie bereid is om die ongemak te omhels om met nuwe maniere van dink uitgedaag te word nie, is ook gewoonlik nie bereid om die langtermynproses te deurloop om die goeie, harde en ongemaklike vrae, wat nodig is om te vra nie, vra nie.


  1. Denkwyses raak of / of, in plaas van en / en.


Na jare van oppervlakkige denke, lei dit tot eng denke. ‘n Nou stroompie van denke moet gedurig teen alternatiewe stroompies van denke kompeteer. Dit gebeur ook veral wanneer die kultuur toksies geraak en die vertroue onderling laag is. Dan word elke sleutelpersoon se opinie teenoor ander individue geposisioneer, in plaas daarvan om saam te werk aan ‘n gesonde en omvattende sintese, wat die beste neem uit al die strome van denke en ‘n nuwe gesonde strategie ontwikkel.


Die vrees of ongemak om gewoontes aan te leer van nuut dink en eksperimenteer, is dus iets wat herhaaldelik voorkom as ‘n fundamentele struikelblok om te oorkom.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page