top of page

Eenvoud maak goeie leiers

  • Roedolf Botha
  • Jan 9
  • 3 min read

Ek was my hele lewe lank geïnteresseerd in en gefassineer deur leierskap. Selfs as kind, alhoewel ek nie werklik verstaan het wat leierskap is of waaroor dit werklik gaan nie, was ek onbewustelik deur temas wat later met leierskap geïdentifiseer sou word aangegryp. Een van die dinge wat vir my soos ‘n paal bo water staan is dat die eenvoudigste of kortbondigste stellings soms die meer blywende impak op my eie leierskap gemaak het. Een so ‘n stelling bly my nog my hele lewe lank by en het ‘n betekenisvolle impak op my denke gehad, asook hoe ek myself in die gee van leiding gehandhaaf het.

Die wysheid waarna ek verwys kom van een van die VSA se mees getroue en effektiewe geestelike leiers. Na die persoon se onlangse afsterwe het mense wat hom geken het dit weer aangaande sy lewenshouding gesê. Mense het deur die jare dikwels vir hierdie persoon gevra wat hom so suksesvol gemaak het. Dan het hy gewoonlik gesê:


“Having a mind like a scholar, a heart like a child, and a hide like a rhinoceros.”

Kom ons dink ‘n bietjie verder na oor hierdie oënskynlik eenvoudige stelling.


  1. Die denke van ‘n akademikus. Hierby word bedoel om jou verstand so skerp as moontlik te hou sodat jy goeie en vars besluite kan neem. Dit behels nie net om jou redenasievermoë te oefen nie, maar ook om jouself ingelig te hou aangaande die kritiese areas van kennis binne-in jou industrie. Moenie tevrede wees met min lees, min denkoefeninge of intellektuele luiheid nie. Indien jy ‘n predikant is, lees jou Bybel in Grieks en Hebreeus, of stimuleer jou taalvaardighede ten minste wanneer jy kan. Jou leierskaprol is jou roeping en een van die maniere waarop jy dit ernstig neem is deur jou intellektuele kapasiteit te strek tot sy volle potensiaal. Of leiers nou daarvan hou of nie, hulle lei die meeste van die tyd deur hulle kennis en denke, gekombineer met die voorbeeld wat hulle stel. Dit beteken nie dat die leier altyd die slimste of mees ingeligte persoon moet wees nie, maar wel dat ‘n leier moet kan dink en die slimstes saam met hom kan neem.


  2. Die hart van ‘n kind. Hier is ‘n hele paar voorbeelde van wat dit behels:

    1. Moenie jouself te ernstig opneem nie en lag baie. Lag ook vir jouself. Behou jou humor en lag baie saam met mense. Laat jou leierskap deur vreugde en ‘n ligtheid aan jou lewenshouding gekenmerk word. 

    2. Bly nederig. Moenie jou rol verwar met jou identiteit nie. Moenie ooit dink jy het die wysheid in pag nie. Bly oop teenoor ander mense soos wat ‘n kind is. Glo die beste van mense totdat hulle jou verkeerd bewys en selfs dán moet jy vergewe soos ‘n kind. 

    3. Behou jou speelsheid. Maak ‘n spel van die lewe. Maak ook ‘n spel van jou roeping en werk. Mense wat speel se denke is helderder en meer gestimuleer tot kreatiwiteit as mense wat konstant ernstig is, sonder spel.

    4. Bly nuuskierig soos ‘n kind. Bly snak na jou asem wanneer die lewe en ander mense jou met goedheid en skoonheid verras. Hou aan leer en wees kinderlik geïnteresseerd in dinge wat werklik saak maak.

    5. Bly liefdevol en vergewensgesind teenoor mense en verban enige vorm van bitterheid uit jou lewe. Bly kyk na mense met ‘n vonkel in jou oog en ‘n glimlag op jou lippe.

    6. Bly altyd onskuldig wat betref die bose dinge van die lewe. Bly goed en moenie toelaat dat die donkerte en korrupsie van die lewe jou intrek nie.


  3. Die vel van ‘n renoster. Jy kan nie bekostig om gevange te hou word deur die skinderstories of opinies wat oor jou ontwikkel nie. Dit beteken nie dat jy nie na mense luister nie. Inteendeel, luister moet jy baie. Maar nadat jy mooi en aandagtig geluister het, liefdevol reageer het, neem dan die regte besluit wat die beste is vir die hele maatskappy of organisasie, sonder om te wonder wat ander mense hiervan gaan dink. Indien ons mense wil lei, ook geestelik lei, mag ons nie bang of deur hulle geïntimideer wees nie. Indien jy byvoorbeeld die hele tyd wonder wat ryk mense van jou dink, sal jy hulle nooit geestelik kan uitdaag of begelei tot groei nie. Jy’s hier om leiding te gee, nie ‘n gewildheidskompetisie te wen nie. Luister na almal, maar moenie jou besluite deur menslike opinie laat bepaal nie. 


Ek het onlangs so aan gemeentes en besighede begin dink toe ek weer hierdie stelling opgediep het. As gelowige leiers hierdie een stelling ernstig opneem en konsekwent najaag, sal hulle instansies lei wat ‘n aardskuddende impak in die samelewing sal hê en wat sal meewerk aan die daaglikse koms van Jesus se koninkryk.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page