top of page

Die rede vir emosionele intelligensie by leierskap

  • Roedolf Botha
  • 5 hours ago
  • 3 min read

Ons almal weet dat emosionele intelligensie uiters noodsaaklik is vir goeie en effektiewe leierskap. Soms kry ons die beste redes oor waarom dit so noodsaaklik is sommer uit die alledaagse lewe self. Dit het met my gebeur toe ons onlangs in Italië saam met ‘n paar gemeentelede getoer het. Ek het twee uitmuntende voorbeelde beleef van, aan die een kant, onaangename en oneffektiewe leierskap, en aan die ander kant, uitmuntende leierskap. Albei die lewenslesse was te leer by die toergidse wat ons elk deur verskillende situasies moes lei.


Eersgenoemde het ons by die Colosseum in Rome beleef. Dié gids kon in die eerste plek nie die beste Engels praat nie, wat alreeds ‘n uitdaging was. Maar dit sou ‘n mens nog kon oorsien. Wat werklik steurend was en uiteindelik tot algehele oneffektiwiteit gelei het, was die vrou se gebrek aan presies dit: emosionele insig in die mense wat sy moes lei. Sy het duidelik ‘n hengse klomp historiese inligting in haar kop gehad, wat sy eenvoudig van die eerste minuut af waarmee sy ons van die begin af oorlaai het. Ek sê “oorlaai”, want dis presies wat dit was. Sy het geen konneksie gemaak met haar gehoor gemaak nie, nie opgelet dat hulle soms nie mooi hoor nie. Sy het eenvoudig klakkeloos aangegaan asof sy met niemand behalwe haarself praat nie. Soms moes ek haar stop en haar daarop wys dat meer as die helfte van die groep nie meer by haar is nie en ver agter in die skares geraak het. Dit het ten minste drie of vier keer gebeur. Dan wag sy so een minuut en begin maar weer teen dieselfde tempo en styl soos wat sy dit goed dink.


Die hartseer is dat die meeste mense later maar eerder hulle gehoorstukkies uit hulle ore gehaal het en eenvoudig net nie meer geluister het nie. Dit was beter om maar eerder sonder die gids se eindelose en onsensitiewe geklets klaar te kom.


Baie leiers doen dit. Hulle is uiters slim en weet waarvan hulle praat. Maar hulle ken en verstaan nie hulle eie mense nie. Hulle verstaan nie die mense se taal nie, sien nie hulle behoeftes raak nie, en raak ongeduldig wanneer mense nie verstaan en nie kan bybly by die nuutste planne en strategieë nie. Ek het heimlik gehoop en gebid dat ek nie so ‘n leier is nie.


Die tweede vroutjie was presies die teenoorgestelde. Sy het ons deur die Vatikaan  met passie en deernis se museum begelei. Sy was vriendelik, het telkens omgedraai en ons in die oë gekyk. Sy het in ‘n kort tydjie diep kontak met ons gemaak. Sy het ons laat voel asof sy een van ons is. Sy was sensitief vir ons behoeftes en het gedurig vir ons gevra of ons nog by is en of ons alles verstaan. Sy was kreatief in haar aanbieding en uiters professioneel. Sy was ook duidelik diep gelowig en die inligting waarmee sy ons gelei het was vir haarself intens persoonlik. Sy het emosie getoon en ‘n mens het haar sommer liefgekry, al het ons haar net ‘n paar minute geken. Ons het egter ‘n stywe skedule gehad en sy het ons sagkens gedruk om betyds klaar te wees voor die volgende groep moes begin. Dit het egter nie vir ons enigsins gejaagd gevoel nie, omdat sy ons met soveel sensitiwiteit gelei het.


Ek het vir myself ‘n paar dinge as leier vertel:

  • Ken jou inligting, maar ken veral jou mense

  • Luister na hulle dat hulle kan beleef dat jy omgee

  • Maak kontak en bou ‘n gevoel van konneksie met hulle

  • Moenie jou mense laat dom voel nie. Lei hulle met geduld, soos ‘n herder wat besorg is oor sy skape.


Ek het nogal ‘n paar keer gedurende hierdie onaangename ervaring teruggedink aan wat John Maxwell oor leierskap gesê het:


“If you think you are a leader, turn around, and if no one is following, you’re not leading, you’re just taking a walk.”

Om saam te vat: lei soos Jesus. Ken jou skape en sorg dat hulle jou stem leer ken en leer liefkry.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page