Batman: Watter karakter speel jy?
- Roedolf Botha
- 2 days ago
- 4 min read
Ek het al heelwat geskryf oor die baie bekende en populêre Dark Knight-fliektrilogie waarvan Christopher Nolan die regisseur is. Hierdie drie flieks openbaar merkwaardige diep menslike en Bybelse insigte vir ‘n superheldprent. Een stukkie wysheid wat egter onlangs op my neergedaal het, kom uit die tweede fliek, The Dark Knight. Hierdie fliek is uiters ryk aan komplekse karakterontwikkeling en simboliek en bring geweldige mensekennis na vore wanneer jy die drie hoofkarakters begin ontleed, veral ten opsigte van hoe hulle die swaarkry en pyn in hulle lewens hanteer.
Die eerste karakter is die Joker, gespeel deur Heath Ledger, wat ook die Oscar vir sy rol as hierdie bose skurk gewen het. Die Joker het ‘n aaklige en baie ongelukkige kinderlewe gehad met ‘n pa wat hom en res van die familie uiters wreed hanteer het. Die Joker word dus groot in ‘n uitermate bose omgewing in ‘n donker en toksiese atmosfeer. Die gevolg was dat sy hart al die donkerte geabsorbeer en opgegaar het, totdat hy net soos sy pa geword het. Dis ironies, aangesien hy sy pa met alles binne-in hom gehaat het. Na sy trauma het alle rede hom verlaat en hy het homself so absoluut aan die donker van sy eie omstandighede oorgegee dat hy in ‘n bose tiran verander het wat vernietiging en chaos veroorsaak het net waar hy kom. Hy is so absoluut boos en sleg dat geen redenasie met hom die gewenste uitwerking het nie. Jy kan nie met hom onderhandel, of enige iets doen om sy houding te verander nie. Hy is soos ‘n donker, swart gat, wat eenvoudig alles en almal met homself saamneem die afgrond in. Hy is eenvoudig net daarop uit om almal in sy dampkring seer te maak en alles in sy pad te vernietig. Hy openbaar egter geweldige intelligensie en slu kreatiwiteit wat alles in diens staan van hierdie bose hart van hom. Oor hom sê Alfred, Bruce Wayne (Batman) se lakei:
“Some men aren't looking for anything logical. They can't be bought, reasoned, negotiated, or bargained with. Some men just want to watch the world burn.”
Die tweede karakter is ook ‘n skurk in die fliek, naamlik Twoface. Wat hierdie karakter regtig vreesaanjaend maak is dat hy eers goed was, soos ek en jy, ‘n politieke aktivis met die naam Harvey Dent. Aan die begin van die fliek maak hy die filosofiese stelling:
“Either you die the hero, or you live long enough to see yourself become the villain.”
Hierdie woorde is uiters ironies, aangesien dit presies is hoe sy eie lewe ontvou. Aanvanklik baklei hy saam met Batman en die ander helde in die fliek teen die misdaad en kriminele euwels, asook teen die Joker. Wat egter uiteindelik met hom gebeur is dat hy die meisie op wie hy smoorverlief was, aan die dood moes afstaan. Sy was sy hele lewe en alles in sy lewe het rondom haar gedraai. Die oomblik toe hy haar verloor, verval hy in totale selfbejammering en kompulsiewe slagofferskap. Hy kan homself slegs as slagoffer sien en sy pyn word sy identiteit. Dit maak hom so bitter dat hy nie skroom om sy bitterheid die wêreld se probleem te maak nie. Hy raak nou net so vernietigend soos die Joker. Maar hy regverdig sy eie geweld en bose gedrag deur almal te wys op sy pyn en verlies. Hy dink dat, omdat hy ‘n slagoffer is, hy aanspraak kan maak op regverdiging van sy bose dade.
Baie mense in ons samelewing is ook so. Hulle dink omdat hulle goed is, of goed was in die verlede, en omdat hulle te na gekom is, hulle nou maar ander mense kan misbruik of minag. Hulle vertel die hele tyd vir almal hoe swaar hulle kry en dat hulle geregtig is om hulle lewens te leef soos wat hulle wil. Hulle pyn regverdig dit - so glo baie mense, al sê hulle dit nie altyd hardop nie.
Die derde en laaste karakter is natuurlik Bruce Wayne (Batman) self. Batman het net soveel pyn soos die ander twee figure beleef. Trouens, dalk nog meer. Sy pa en ma is voor sy eie oë vermoor toe hy ‘n jong seun was. Hy het in ‘n weeshuis grootgeword. As volwassene verloor hy ook die vrou op wie hy verlief was. Beide Twoface en Batman was verlief op dieselfde beeldskone vrou, Rachel! Toe hy haar verloor, was hy uiters verslae, hartseer en ontnugter, maar hy het nie sy kop verloor nie. Alhoewel hy baie lief was vir haar, het hy ‘n hoër lewensdoel en roeping gehad wat hom gedefinieer het. Rachel was ‘n uiters belangrike deel van sy lewe, maar hy het vir meer as net vir haar geleef. Sy hele wêreld het nie om haar gedraai nie; daarom het alles nie vir hom ineengetuimel toe sy sterf nie, so hartseer as wat haar afsterwe was. Dit was sy hoër doel om die stad te help, om mense se lewens te red en om homself vir die mense van Gotham City op te offer.
Dit leer my dat my lewe nie afhang van wat met my gebeur nie, maar wel hoe ek reageer op en wat ek toelaat om my denke oor te vorm en te domineer. Paulus is weereens so ‘n goeie voorbeeld. Ten spyte van die hoeveelheid kere wat hy onregmatig verontrief is, geslaan is of gely het, het hy altyd sy vreugde in die Here behou. Hy was altyd dankbaar en het nooit liefdeloos teenoor sy vriende of vyande opgetree nie. Soos Jesus het Hy nooit bitter geraak nie. Hy vra nooit die mense om te bid dat sy eie pyn verwyder word nie, maar eerder dat sy liefde vir mense sal toeneem, asook die vrymoedigheid om die evangelie nog dapperder te verkondig. Sy vertroue was altyd in ‘n Vader en Here wat hom liefhet en weet wat hy nodig het.
Ons geestesgesondheid hang alles af van watter verhaal ons lewens definieer en binne watter verhaal ons elke dag kies om te leef. Indien ons kies om ons pyn om te skakel in die hoofstorie van ons lewens, is ons in die moeilikheid.
As Jesus egter ons verhaal is, kan ons, soos Batman, enige moeilikheid oorkom, al is dit hoe pynlik.




Comments