top of page

Woede is verstaanbaar, maar geloof is beter

Roedolf Botha
1 hour ago
2 min read

Somtyds verras Hollywood ‘n mens aangenaam met die geestelike insigte waarmee hulle in flieks vorendag kom. Ander kere weer moet ‘n mens maar mooi onderskei en swaar sluk. Hoe dit ook al sy, in die tweede X-men fliek, X-2, vind daar ‘n interessante gesprek tussen twee superhelde, Storm en Nightcrawler plaas. Storm is weens haar hartseer agtergrond van misbruik deur baie mense, uiters bitter, kwaad en kort van draad. Haar vertroue in ander mense is ook baie laag en gevolglik duld sy nie ander mense na-aan haar nie.


Op ‘n stadium sê haar vriend, Nightcrawler, vir haar;

“Someone so beautiful should not be so angry.”

“Sometimes anger can help you survive,” reageer Storm.

Met groot wysheid sê Nightcrawler net: “So can faith.”


Natuurlik het woede oënskynlike nut. Oor die korttermyn kan dit help om uit woede ‘n muur te bou, jouself te staal teen onnodige emosionele blootstelling, diep verhoudings, wanneer jy geen emosie wil toon nie en jouself af wil sny van almal wat jou teleurstel. Die sielkunde leer vir ons dat wanneer ‘n individu self kies om kwaad te wees wanneer mense jou teleurstel, dan laat dit jou ten minste voel asof jy van nou af self die keuse maak. Dit verlaag tydelik die gevoel van deur ander verwerp te word. Jy voel in beheer van jou lewe, want jy het self besluit om jou af te sny voordat nog iemand jou verwerp. Woede is ‘n vorm van selfbeskerming.


Hier is egter die probleem. Ons word deur Jesus geroep tot selfopoffering, nie selfbeskerming nie. ‘n Hart wat woede huisves en vertroetel, mag dalk tydelik voel hy beskerm homself, maar op die langtermyn sal so ‘n persoon begin voel hy raak hard, verbitterd en gevoelloos. Mense begin hom vermy en die persoon raak net eensamer en eensamer. Hierdie belewenis laat die woede weereens opvlam totdat so ‘n persoon se lewe in totale bitterheid, eensaamheid en hopeloosheid eindig.


Om jou geloof en vertroue in Jesus te plaas, is ‘n beter pad. Eerstens leer Jesus ons dat jy nie die eerste een in die geskiedenis is wat verwerp is nie. Jesus is deur sy vriende verwerp en verraai en verloën lank voordat dit met jou gebeur het. Jesus leer ons ook om realisties oor die lewe te wees deur nie verbaas te wees wanneer so-iets met jou gebeur nie. Jesus leer ons dat ons in ‘n onvolmaakte en sondige wêreld leef waar mense mekaar seermaak.


Tweedens leer Jesus ons om kwesbaar te wees en te vergewe. Hy vergewe van die kruis af. “Vader vergewe hulle ...” Hy was op Sy kwesbaarste aan die kruis. Verlaat deur almal. Aan Homself oorgelaat. Vergifnis bring egter ‘n stuk bevryding. Vergifnis maak jou vry van die slegte en bose harte van die mense wat jou seermaak. Vergifnis hou jou hart sag, leerbaar en plooibaar sodat jy in hierdie harde wêreld kan aanpas. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page