top of page

Wat is jou “teddiebeertjies”?

  • Roedolf Botha
  • 3 hours ago
  • 4 min read

Prins Andrew van die Britse koningshuis was die afgelope paar jare ‘n paar keer in die media as gevolg van sy moontlike onderduimse kontak met Jeffrey Epstein. Nou onlangs weer. Daar is selfs gepraat van moontlike geestelike afwykings en ander dinge wat onder die mat ingevee is omdat hy magtig en ‘n persoon van invloed is. Die ding wat my egter die meeste aangaande Prins Andrew gefassineer het, was nie een van hierdie populêre aantygings teen hom nie. Ek was baie meer geamuseerd toe daar gepraat is oor sy teddiebeertjies. Ja, jy het reg gehoor. Teddiebeertjies. Een dag het een van die personeel in die paleis uitgepraat en vertel dat Andrew letterlik tientalle teddiebeertjies op sy bed het, wat elke oggend op presies die regte plek gepak moet word wanneer die bed opgemaak word. Elke beertjie moet langs sy regte maatjie wees en elkeen moet pynlik presies gestapel word in verhouding tot die ander. En wee die arme, niksvermoedende skoonmaker, wanneer dit gebeur dat een beertjie net skeef lê, of in die verkeerde volgorde gevind word! Dan skel en skree Andrew asof sy lewe daarvan afhang. Iemand het beweer dis asof hy heeltemal “uithaak”. Hierdie eienaardige gewoonte van die prins is ook uitgebeeld in die een fliek Scoop, wat in 2024 vrygestel is. Dit vertel ook die storie van hoe die Britse pers te werk moes gaan om te poog om Andrew te laat erken wat sy verbintenisse met Epstein was. Die volwasse man met sy vreemde teddiebeertjies.


Vir ons klink so iets geheel en al absurd om so obsessief oor iets te wees. Ek het verlede week iemand hoor praat van die prins se “teddiebeersotlikheid”. Maar ons moenie so gou oordeel nie, want ons kan elkeen ook ons eie “teddiebeertjies”-obsessie hê. Ervaring dui vir ons daarop dat hoe ryker ‘n persoon, groep, of samelewing is, hoe meer “dinge” besit ons. Omdat ons so gewoond en geheg raak aan ons klein luuksheidjies en gemakkies, raak ons dikwels baie moeilik wanneer hierdie klein sotlikheidjies van ons bedreig of weggeneem word. Of wanneer daar aan hulle “geskuif” word. Dan verloor ons geestelike perspektief. So verander ‘n aanvanklik redelike, liefdevolle en nederige mens in ‘n moeilike ou suurknol, of ‘n onbeskofte buffel, want daar word aan sy “teddiebeertjies” gekarring. Die Bybel noem dit afgode.


Hierdie obsessie oor goed, wat nie werklik belangrik is vanuit ‘n breë lewensperspektief nie, word nie so maklik by eenvoudiger mense gekry nie. Mense in baie eenvoudiger omstandighede het dikwels baie meer perspektief as ons wat soveel besit. Ek het vriende in baie eenvoudiger lewensomstandighede, soos informele nedersettings. ‘n Mens sien hierdie verskil in die dinge waarvoor ek en hulle elkeen bid. Hulle bid byvoorbeeld gereeld om bloot net vanmiddag brood op die tafel vir hulle gesin te hê. Ek bid vir ‘n parkeerplek voor die winkel, want ek wil nie ‘n paar meter verder stap as wat nodig is nie. Ek bedoel beslis nie om simplisties te wees nie. Ek sê byvoorbeeld nie dat arm mense nie afgode het nie. Inteendeel. Alle soorte samelewings het hulle eie afgode, maar hulle lyk anders in elke omgewing. 


Paulus wys so mooi vir ons hoe dat sy belangrikhede geskuif het sedert hy Jesus ontmoet het. In Filippense 3:4-9 verduidelik hy hoe sy eie CV vir hom so belangrik was: Sy geleerdheid, sy etniese agtergrond en taalgroep waarin hy gebore is, sy godsdienstige praktyke en kulturele erfenis. Noudat hy Jesus leer ken het, het sy hele waardestelsel geskuif. Paulus het ook “teddiebeertjies” gehad wat vir hom te belangrik was. Gelukkig het Jesus hom daarvan kom bevry toe hy Jesus ontmoet het. Al sy kulturele en ander voorkeure lê hy nou neer. 


Ongelukkig is dit vandag so dat baie gelowiges se gedrag steeds deur hulle “teddiebeertjies” beheer word. Hierdie “teddiebeertjies” kan soos volg lyk:

  • Die een persoon is ‘n opgaarder en kan nie dinge laat gaan nie. In Pretoria-Oos byvoorbeeld maak stoorbesighede enorme hoeveelhede geld, want duisende mense stoor hulle onnodighede eerder as om daarvan ontslae te raak.

  • Sommige mans reageer irrasioneel wanneer hulle gereedskap in die motorhuis nie reg deur die vorige persoon wat dit gebruik het, gerangskik is nie. Natuurlik kan daar verwag word dat die mense wat ons gereedskap gebruik dit mooi moet oppas. Ek praat eerder van ‘n obsessie dat alles presies reg moet wees, voordat jy jou humeur kan beteuel.

  • Sommige vrouens versamel juwele, of ‘n hele kas vol skoene. Die goed word nooit meer gedra nie, maar dis die obsessie om dit te móét hê.

  • Sommige mense raak kinderlik ontsteld wanneer vreemde mense Sondae “op hulle plek” in die kerk sit! Kan jy glo!

  • Iemand anders se “teddiebeertjie” is om perfekte diens by die koffiewinkel of restaurant te eis. Dis sulke mense wat met die kelner raas omdat dinge nie presies gebeur soos wat jy gevra het nie. Gelowiges met mag vergeet soms dat dinge nie altyd hoef te gebeur soos wat ek wil hê nie, al “betaal ek vir goeie diens”.

  • Om aan te dring om in Afrikaans te aanbid op ‘n Sondag is beslis volgens Paulus so ‘n “teddiebeertjie”. Dis ‘n luukse. Sy gemeentes was immers almal gemeng.

  • Énige ander luuksheid waarop jy reageer asof dit ‘n allernoodsaaklike lewensbron is, soos kos of suurstof, kan jou “teddiebeertjies” wees.


Ons sien nie altyd hierdie inkonsekwenthede by onsself raak nie, want vir ons maak al ons vreemde gewoontetjies redelik sin. So vertel ons onsself.


Dit vat ‘n absurde voorbeeld soos dié van die “teddiebeertjieprins”, om ons eie afgode te ontmasker sodat ons die absurditeit daarvan duidelik in ons eie lewens kan raaksien.



Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page