‘n Goeie rede vir dapperheid
- Roedolf Botha
- 4 days ago
- 2 min read
Ryland Grace was ‘n lafaard. Hy is gevra om aan boord van ‘n ruimtetuig te gaan in ‘n selfmoordmissie na die verre buitenste ruim om te probeer om ‘n sterwende planeet Aarde te red. Hy het nie kans gesien nie - die opoffering was net te veel vir hom. Sy mederuimtevaarders was dapperder. Hulle het kans gesien, maar nie Ryland Grace nie. Dis die storie wat vertel word in die nuwe wetenskapsfiksie prent, Project Hail Mary.
Grace, gespeel deur Ryan Gosling, was die hoofkarakter in die fliek. Op ‘n stadium deel hy sy vrese en lafhartigheid met sommige van hierdie dapper ruimtevaarders wat wel kans gesien het om die onbekende ruimtes in te gaan.
Die een persoon sê toe vir hom: “Anybody can be brave. You just need to find someone to be brave for.”
Sjoe!
Hierdie held het natuurlik verwys na sy eie gesin en familie, wat hy nou nooit weer sou sien nie. Maar hy offer sy lewe op sodat hulle kan lewe. Hy doen dit vir hulle.
Dit is ook wat Jesus gemotiveer het om al die pad tot aan die ander kant van die kruis te stap. Eerstens het Hy dit gedoen om gehoorsaam te wees aan Sy Vader. Tweedens het Hy dit vir ons gedoen. Trouens, Jesus se ganse menswording was die projek van die Goddelike Drie-eenheid en dit was om die ganse mensdom te red. Dit was immers God se droom van die begin af: om vir ons ‘n God te wees sodat ons vir Hom ‘n volk kan wees. Dit was God Drie-enig se droom om Sy mense te red en met hulle te kan wees. Sy liefde vir ons het Hom gedryf tot aan die kruis. Al was Jesus doodsbenoud (Matteus 26:38) en al het Hy gevra dat die beker van lyding by Hom sal verbygaan, het Hy volhard op die Via Dolorosa, die pad van lyding. Hy het volhard omdat Sy liefde vir ons Hom tot daar geneem het. Paulus sê dieselfde: “Die liefde van Christus dring ons...” (2 Kor 5:14). Sonder die liefde van Jesus sou Paulus geen waagmoed ontwikkel het om sy lewe vir God en vir sy mense af te lê nie.
Liefde maak ons braaf. Selfs die bewerigste en bangste ouer sal byvoorbeeld homself opoffer indien sy kinders se lewens in gevaar sou verkeer.
Die evangelie vra geloof en waagmoed van ons. Maar ons sal nooit die waagmoed ontwikkel om ons vyande lief te hê, op te kom vir die Naam van die Here, te veg vir geregtigheid, indien ons nie oorweldig word deur liefde van Jesus wat Sy lewe vir ons gegee het nie. Ons lewe vir Jesus. Hy het self gesê dat ons Hom sal gehoorsaam as ons Hom liefhet.
Wat is jou rede vir geestelike dapperheid?
Hopelik is Jesus self jou rede en jou voorbeeld.




Comments