Uitbranding hoef jou nie oor te kom nie
- Stephan Joubert
- Jun 9
- 1 min read
Die woord “uitbranding” word deesdae baie gebruik. Uitbranding gebeur wanneer mense hulle eie fisiese en emosionele kapasiteite opgebruik het. Dit gebeur as hulle niks meer in hulle lewenstenk oorhet om te deel nie. Uitbranding loop hand aan hand met voltydse moegheid, asook met gevoelens van sosiale diskonneksie, lae selfwaarde en min effektiwiteit. Uitbranding is inderdaad soos ’n motor, wat sonder brandstof probeer ry.
Keer dat uitbranding jou tref. Nee, dit is nie ‘n skande as so-iets wel met jou gebeur nie. Uitbranding sê nie jy is ’n mislukking nie. God het jou dan nie verlaat of afgeskryf nie. Maar weet asseblief ook dat jy uitbranding kan systap. Jy hoef dit nie oor te kom nie. Omring jou met wyse mense, wat jou betyds sal waarsku as jy te veel hooi op jou vurk het. Volg leefritmes na, wat groter vrede en rustigheid in jou lewe meebring. Sê nee vir nog dinge, wat jou lewe oorvol maak. Moenie aanmeld vir take en opdragte wat buite jou vermoëns val nie. Moenie gedurig ander mense ten koste van jouself probeer tevrede stel nie. Handhaaf die regte daaglikse geloofsdissiplines voor die Here. Raak elke oggend en aand stil voor Hom. Sit jou laste elke dag getrou aan Jesus se voete neer. Glo dat Hy dit namens jou dra. Leef vanuit Sy goedheid. O ja, wees sagter en meer genadig met jouself. Dan brand die regte vuur elke dag in jou hart, daardie een, wat die Here se warmte en liefde versprei. Dan brand jy nooit stukkend of uit nie.
Comments