top of page

Tuiste is nie ‘n “Waar?” nie maar ‘n “Wie?”

  • Roedolf Botha
  • Aug 11
  • 3 min read

Het jy al ooit teruggekeer na plekke waar jy grootgeword het as kind? Ek het. Toe my ma in 2010 oorlede is, het ek een keer deurgery na die een huis waarin ons gewoon het toe ek klein was. Dis die plek wat ek die meeste met my ma en spesifiek haar moederskap verbind het. Die gedagte was om sommer net ‘n bietjie na te dink en terug te dink aan my kleintyd as deel van my eie rouproses na my ma se afsterwe. Hoe teleurgesteld was ek egter nie. Toe ek by dié huis arriveer sien ek dat ‘n groot en hoë muur rondom die erf gebou is. Die hoë bome waarin ek geklim het, is uitgehaal. Dis asof ek die plek nie meer herken het nie. Trouens, dis asof die plek my ook nie herken het nie. Die ervaring was nie vir my so ryk soos was ek gehoop het nie.


Ek het dadelik gedink aan daardie een lyntjie in Psalm 103:16 waar die skrywer praat van ‘n veldblom wat vergaan. Daar staan: “ ... en sy plek is vir altyd leeg”. In die Hebreeuse grondteks staan daar: “ ...  sy plek onthou hom nie meer nie”. Die psalmskrywer probeer sê dat God ons begryp en verstaan. Hy neem in ag dat ons soos veldblomme verganklik is. Ons is sterflik en kwesbaar en ons lewensduur tydelik. Ons laat geen permanente indrukke op plekke nie. Plekke vergeet ons vinnig.


Terwyl ek so voor ons ou woonplek staan, het ek dadelik gedink dat wat dit spesiaal gemaak het nie die plek was nie, alhoewel ek vir lank so gedink het. Dit was die mense wat saam met my daar gewoon het. Húlle het dit vir my soos ‘n ware tuiste laat voel. Ek het goeie ouers gehad wat ‘n wonderlik omgewing vir ons as kinders geskep het. Dis ons verbintenisse wat aan alles betekenis gegee het. Dit was ‘n tuiste wat bevorderlik was vir my opvoeding, ontwikkeling en sekuriteit, alles as gevolg van my familie. Die fisiese strukture van die eiendom was sekondêr.


In baie van ons gevalle vandag het ons fisiese besittings, wonings en luukshede ons tuistes en ons sekuriteit begin word. Ons heg baie waarde aan waar ons woon, die gemak en tuis wees in “my eie plek”. Verhoudings het te moeilik geraak om te onderhou. Mense hou nie meer lank met mekaar uit nie. Selfs afgetrede egpare begin kla dat hulle hulle eie kinders nooit sien nie, al woon die kinders en kleinkinders in sommige gevalle in dieselfde buurt! Mense heg meer waarde aan hulle besige lewens, werk, besittings en eie woonplekke, al bely hulle soms anders.


Ons moet egter onthou dat die Here nie vir ons bedoel het om geheg te raak aan fisiese en materiële dinge nie. Hy het veel eerder bedoel dat ons as Sy familie, Sy kerk so na aan mekaar leef dat ons verhoudingswêreld ons tuiste word. In die eerste plek is God self ons tuiste. In Openbaring 21 lees ons dat die lewe na die dood ‘n verhoudingstoestand gaan wees. Wat die hiernamaals hemels gaan maak, is nie goue strate of die glansende poorte van die stad nie, maar God en Sy mense. In verse 2-3 staan daar:


“En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid, wat vir haar man versier is. Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal Sy volk wees en God self sal by hulle wees as hulle God.”

Ons geskiedenis gaan eindig in ‘n bruilofsfees, ‘n verhoudingshereniging tussen Ons en God, ons onderling, en ons en die skepping. Ons nadoodse toekoms is nie in die eerste plek ‘n plek nie, maar ‘n netwerk van eensgesinde verhoudings. Met God en met mekaar. God is op ‘n missie van die begin van die geskiedenis af en dis om vir Homself ‘n nuwe mensheid te skep en bymekaar te maak by wie Hy kan wees en by wie ons kan tuis wees. Dit sluit natuurlik wel ‘n plek ook in. Maar die plek is nie wat ons gaan laat tuis voel nie.


Ons is geskep vir verhouding, vir konneksie.

Ons is bedoel vir God.

Ons is bedoel vir mekaar.

Dis tuiste. Dis huis.

Nie ‘n plek nie.


En waar God self ons eindbestemming gaan wees, sal ons nooit vergeet word nie.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page