Ons sien die beste van onder af!
- Roedolf Botha
- 11 minutes ago
- 3 min read
Die afgelope week het ek die langverwagte Christopher Nolan weergawe van The Odyssey gekyk, die bekende Griekse storie deur die antieke digter, Homeros. Dit was in vele opsigte ‘n fees vir die sintuie en die siel en Nolan het homself net weer bewys as ‘n bobaas storieverteller. Die storie handel oor Odysseus, die koning van een van die Griekse provinsies, ‘n veteraansoldaat van die slag van Troje. Na die Trojaanse veldslag probeer hy om by sy huis, sy vrou en sy seun uit te kom. Sy terugkeer word egter ‘n tien jaar reis met baie afleidings, vertragings, gevare en gedrogte. Sy vrou, Pelelope, sit intussen by die huis en wag, terwyl ‘n spul korrupte, gierige mans haar probeer die hof maak, sodat hulle uiteindelik, deur met haar te trou, Odysseus se koninkryk kon oorneem. Een van die sinne in die fliek wat my opgeval het, was toe Odysseus oor ‘n afstand hoor van die gierige vryers en besluit om nie by sy eie woning op te daag as die bekende koning nie, maar om homself te vermom as ‘n bedelaar in sy eie huis. Sy idee was om vanuit sy bedelaarsrol die skurke van naby uit te kyk, te leer ken en te sien wie die slegte mense is en wie steeds na al die jare lojaal is aan homself. Een van sy vriende vra hom toe waarom hy homself juis wil vermom as ‘n bedelaar, waarop Odysseus wys antwoord:
“The clearest view of a man is from below.”
Die beste manier om iemand te leer ken is as sy mindere, nie sy meerdere nie. Sjoe, ek dink dis insig wat min mense vandag verstaan! Odysseus is baie wys, want hy weet hoe dit bo is tussen die invloedrykes en rykes. Almal gee voor teenoor mekaar en wys nooit hulle ware kleure nie, behalwe teenoor ‘n nikswerd mens in hulle oë, soos ‘n bedelaar. By ‘n bedelaar kan hulle niks van waarde kry nie. ‘n Bedelaar is self waardeloos en omdat dit die geval is, is bedelaars ook redelik “onsigbaar”. Niemand sien hulle raak of is eintlik eers bewus van hulle bestaan nie. Daarom hoef niemand voor te gee voor ‘n bedelaar nie.
Odysseus het geweet dat die armes en onsigbares die beste uitsig het op baie lewensrealiteite. Hulle kyk na die lewe van grondvlak af. Hulle is dieper gegrond in die realiteit as ons. Ons weet ook dat Jesus sommige ryk, invloedryke mense blind en doof genoem het. Rykdom en mag dien as afleidings wat ons lomp maak in die wêreld. Aan baie eenvoudige mense het Jesus weer te kenne gegee dat hulle groot geloof het en beter kan sien as die invloedrykes. Hy het soveel keer daarop gewys dat die armes en verstotenes die gelukkige mense is. Ons rykdom en ons mag kan ons verwyder van sekere realiteite. Ons weet byvoorbeeld dat ‘n CEO van ‘n maatskappy heel laaste hoor en weet wat in sy eie omgewing aangaan. Mense is nie eerlik met die baas nie. Daarom is hy dikwels salig onbewus van wat onder sy neus aan die gang is. Magtige mense weet nie altyd wie hulle ware vriende is nie, maar die minstes in die samelewing verstaan soms beter. Armes weet presies wie is goeie mense en wie nie, want jou karakter word geken aan hoe jy die minstes behandel.
“Geseënd is julle wat arm is ... “, het Jesus gesê. (Luk. 6:20)
Eenvoudige, arm mense is soms oper vir God se stem en vir Sy wil as baie ander mense wat baie het om te verloor. Waarom wil ons dan bo wees? Waarom baklei ons dan so om die opperhand te bekom, om meer en meer te versamel en op te gaar? En waarom bevriend ons nie meer eenvoudige mense sodat ons ook tot die geestelike insigte kan waaroor hulle beskik. Ons is lief daarvoor om van bo af te kyk. Ons hou van af kyk. Dis vir ons gemakliker om van bo af te oordeel, want dan hoef ons nie die pynlike werklikheid te beleef en te sien soos wat dit werklik is nie. Ons vaardighede kan dalk van bo af beoordeel word, maar ons karakter word van onder af gemeet. Dit word bepaal deur hoe ons kyk en dink oor die eenvoudigstes in die samelewing.
“Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen ... “
“The clearest view of a man is from below.”




Comments