top of page

Jesus maak ons meer mens

  • Roedolf Botha
  • Aug 24
  • 4 min read

Toe ons onlangs in Italië was, net nadat ons die magtige Colosseum besoek het, het van die groeplede gevra wat mense dan dryf om as vermaaklikheid diere en mense so koelbloedig te vermoor. “Daar moet ‘n groot skroef los wees met sulke mense,” sê een persoon vir my. Ek stem. Die Bybel ook. Die Woord van die Here sê dat ons almal moet waak teen die donkerte binne-in ons. 


Net soos in sekere apokaliptiese tekste, soos Openbaring en Daniel, is daar ‘n skrikwekkende toneel in die eerste Lord of the Rings-fliek, “The Fellowhsip of the Ring”. Die mees vreesaanjaende karakters in hierdie hele reeks is sekerlik die nege “ringgeeste”, in Engels ring wraiths. Hulle is vreemde bose gedrogte op swart perde, behep met mag en oorheersing, wat regdeur die hele reeks van Tolkien slegs een doel nastreef: om die magtige en waardevolle ring of power, op te spoor en vir hulleself te bekom. Hulle lyk onheilspellend en skrikwekkend, geklee in swart mantels wat ook hulle gesigte bedek. Hulle sinistêre figure lyk byna soos mense, maar hulle vreemde voorkoms en die geluide wat hulle uiter, gee die indruk dat demoniese magte in hulle werksaam is. Daarom is hulle emosieloos en gevoelloos. Hulle voel geen empatie meer nie. Hulle laat ‘n bloedspoor van geweld en ellende agter terwyl hulle deur die wêreld jaag en geen mens of dier ontsien nie.


In die bepaalde toneel verduidelik die avonturier en swerwer, Aragorn, vir hulle wie hierdie ruiters is wat soveel dood en vernietiging saai. Hy sê:


“They were once men. Great kings of men. Then Sauron (simbolies van die duiwel) the Deceiver gave to them nine rings of power. Blinded by their greed they took them without question. One by one they’ve fallen into darkness. Now they are slaves to his will. They’re neither living nor dead. At all times they feel the presence of the ring, drawn by the power of the one master.”

In Tolkien se Christelike verbeelding is hierdie ruiters natuurlik baie simbolies van wat sonde en veral magsbeheptheid en geldgierigheid aan die mens kan doen. In die storie was hierdie wesens eens mense soos ons, maar sonde het hulle so korrup gemaak en hulle denke oorgeneem dat hulle hulle menslikheid begin verloor het. God se beeld binne-in hulle het so vervaag dat dit byna heeltemal verdwyn het. Hulle word slawe van sonde en as’t ware lewende dood, byna soos zombies. Hulle leef soos mense tussen ons, maar hulle is verlore in hulle sonde. So skrikwekkend soos wat hierdie wesens uiterlik lyk, so lyk baie mense wanneer God in hulle harte in kyk. Hulle lyk maar net soos gewone mense onder ons, maar as jy in hulle verskuilde harte kon insien, lyk hulle donker, vreesaanjaend en wreed. Hulle het aan sonde vry teuels in hulle lewe gegee.


Baie mense wonder hoe iemand soos Hitler byvoorbeeld sulke bose dinge kon verrig. Maar enige iets is moontlik as jy aan sonde die oorhand gee. Een sielkundige sê nou die dag dat elkeen van ons ‘n klein Hitler in ons het indien jy nie jou lewe onder Jesus se heerskappy stel nie. Dis interessant hoe beide die Ou en Nuwe Testament mense wat aan sonde oorgegee is, met dierlikheid en verontmensliking vergelyk. Sonde maak ons minder mens. Uiterlik lyk ons dalk soos enige iemand anders, terwyl ons innerlik lyk soos die ringgeeste en verhoudings waar ons ook al kom, vernietig.


In Daniel 7 kom daar byvoorbeeld vier groot diere uit die see, soos een van die diere in Openbaring 13. Hulle verteenwoordig die magtige, bose ryke wat die Israeliete se lewens versuur en hulle deur hulle geskiedenis onderdruk het. Daniel beskryf hulle ook as skrikwekkende gedrogte. Maar dan sien Daniel iets nuuts: in vers 13 sien hy “iemand soos ‘n menslike wese.” Die “menslike wese” herinner baie sterk aan die Seun van die Mens-titel wat Jesus vir Homself in die Nuwe Testament toe-eien. Hierdie menslike koning, wat sterk  met die euwel en magsbehepte dierlike ryke gekontrasteer word, gaan God se heerskappy weer herstel. Hy gaan God se menslike ryk weer herstel. God se beeld in mense tot sy volle reg laat kom. Wanneer Jesus in die evangelies vir ons nooi om Hom as Seun van die Mens te volg, dan herstel Hy die beeld van God, wat voorheen deur sonde skeefgetrek is in die mens. Jesus maak ons lewens mooi en volledig met Sy genade en liefde sodat ons getuies kan wees van die Een wat die wêreld wil red van al hulle gemors.


Die Seun van die mens is nie soos die magte en heersers van hierdie wêreld nie. Hy vernietig nie, hy jaag nie mag en geld na nie, hy manipuleer nie. Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.


Vergeet die ring, die mag, die roem, die geld, die vergelding, die eie eer. Dit bring net vernietiging. 


Volg vir Jesus. Hy herskep ons lewens sodat ons splinternuwe mense word!


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page