top of page

Hoe om te reageer

  • Roedolf Botha
  • 3 hours ago
  • 5 min read

Ons is seker een van die mees reaksionêre gemeenskappe in die geskiedenis. Ek weet dit nie vir ‘n feit nie, maar dit voel so. Almal reageer op alles, so voel dit. Een ou het skaars sy mond oopgemaak, of die artikel geplaas, of al wat ‘n opinie is word gelug. Ek was self ook al dikwels die ontvanger van sulke reaksies op sommige nuusbriewe wat ek skryf. Daar is ‘n paar observasies, wat my nogal bekommer, wanneer ek na almal se reaksies op sosiale media en ander platforms kyk.


  • Dis asof mense byna nooit mooi klaar lees nie en reageer op die emosie wat hulle voel, nie op wat die hoofidee van die skrywer of spreker was nie. Ek het al dikwels na die reaksies gekyk en gewonder hoe die reageerder sy eie opmerking in verband met die artikel wat geplaas is bring. Soms kan ek nie eers die kloutjie by die oor bring nie. Iets in die artikel het duidelik die persoon se knoppies gedruk, maar die reaksie getuig van ‘n totale wanindruk van die bedoeling van die skrywer.

  • Mense vind een, soms los gedagte in die skrywe waarop hulle dan reageer, of dit nou die hoofpunt in die plasing was of nie. Mense lees nie meer totdat hulle begryp nie - hulle reageer wanneer hulle iets voel, ongeag of dit sin maak.

  • Mense reageer impulsief en emosioneel, nie redelik nie. Selfs al klink die reaksies some redelik en feitelik, is dit duidelik dat die reaksie deur blits-impulse gedryf word.

  • Mense reageer dikwels vyandig. Wanneer opinies verskil lei dit byna altyd tot verskillende kampe wat mekaar beskuldig van die een of ander euwel of immorele motief. Daar is byna nooit die ruimte om gesond te verskil, die ander een die moontlikheid om te verskil te gun sonder om hom van immorele hart te verdink nie.

  • Wanneer daar reageer word, kan ‘n mens ook gou hoor dat hierdie veld waarop die persoon reageer, geheel en al buite sy eie kundigheid val. Hy reageer op iets wat hyself nie verstaan nie. Dis egter duidelik dat hy dink hy doen. Dit laat my dink aan die Danning-Kruger-effek: dis wanneer iemand ‘n hoë vlak van vertroue het in wat hy sê, juis omdat hy min van die saak af weet. Hoe minder ons van iets weet, hoe meer dink ons mos juis ons verstaan dit.


Dis asof ons afgeleer het hoe om te gesels. Ek bedoel dit regtig. Dis asof ons nie meer ordentlik kán kommunikeer nie, want ons kan nie meer na mekaar luister nie. Ons het verleer hoe om dit wat ons lees en hoor, gesond te interpreteer. Dit was immers God se probleem met Sy eie mense in die Ou Testament: hulle het gehoor en gehoor, maar kon nooit reg luister nie. Hoor hoe praat die profeet Esegiël (12:1-2):


Die Woord van die Here het tot my gekom: “Mens, jy woon tussen ‘n weerbarstige volk. Hulle het oë om te sien, maar hulle sien nie. Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk.”


Ons vermoë om God te hoor is direk eweredig aan hoe ons na mekaar luister. Ek dink daar is mense wat God jare laas hoor praat het, want hulle weet nie meer hoe om te luister nie. Mense wat sukkel om na mekaar te luister, sukkel ook gewoonlik met die Bybel, alhoewel hulle nie so dink nie. Hulle dink soms dat hulle antwoorde gekry het in die Bybel en hulle kan uiters seker daaroor voel, maar dis maar net omdat hulle net so sleg na die Bybel luister as na mekaar. Ek dink terug aan ‘n vorige kollega wat my baie geleer het oor hoe om in my huwelik te kommunikeer sonder om chaos te veroorsaak. Hy het die luistermetode “gee die vloer” genoem. Die vrou begin byvoorbeeld om haar saak in ‘n bepaalde argument te stel. Die man “gee haar dus die vloer”. Wanneer sy klaar is, dan moet die man reageer deur eers te herhaal wat hy dink sy gesê het. So toets hy sy eie luistervermoë. Hy moet sy vrou se woorde dan stel en weer en weer herhaal, totdat sy self instem en bevestig dat haar man haar opinie nou reg verteenwoordig. Sy moet bevestig dat hy reg verstaan het voor daar aangegaan kan word. Eers dan kry die man sy beurt. Wanneer hy klaar gepraat het moet sy vrou weer herhaal wat hy gesê het, totdat hy tevrede is dat sy reg gehoor het. En so gaan dit aan. Dit voel vir my ons moet weer onsself van voor af op hierdie manier leer luister.


‘n Paar vrae help my gewoonlik om te besluit of ek moet reageer op ‘n persoon se woorde of ‘n skrywe en indien wel, hoe.


  1. Verstaan ek regtig wat gesê word? Moet ek nie die stuk nog twee of drie keer deurlees nie? 

  2. Wat voel ek binne-in my? Voel ek sterk emosie, hetsy positief of negatief? Indien wel, moet ek dalk eers wag voor ek reageer. Dalk eers slaap hieroor? Ek het al geleer dat wanneer ek eers slaap oor die saak, ek glad nie meer die volgende dag so sterk daaroor voel nie. Trouens, dikwels dink ek ek was sommer simpel. Dan is ek bly wanneer ek gewag het.

  3. Verskil ek met een van die “kantlynaantekeninge” van die artikel, of verskil ek met die hoofgedagte? Indien ek met ‘n klein randsakie verskil, dan hou ek dit vir myself. Dis nie so belangrik nie.

  4. Is ek is ‘n “trained critic” as dit kom by die tema wat bespreek word? CS Lewis gebruik hierdie term in sy artikel “On Culture”. Hy wys daarop dat hyself ‘n letterkundige ekspert is en dat wanneer hy ‘n artikel lees, hy vanuit sy eie kundigheid bloot kan oordeel wat die boodskap van die artikel is. Dis al gereedskap waaroor ‘n letterkundige beskik. Hy beweer dat selfs wanneer hy weet wat die artikel sê, hy nie eintlik kan oordeel oor of dit wat in die artikel gesê word, goed of sleg, reg of verkeerd is nie. Daaroor, voel hy, moet ‘n filosoof of ‘n teoloog eerder oordeel. Dis nie sy veld nie. Ons weet egter dat Lewis self by tye gereageer het op sekere temas wat nie binne sy eie area val nie, soos byvoorbeeld die teologie. Maar dan sien jy hoe nederig hy oor die saak is en hoe hy eerder reageer met vrae aan die skrywer as met kritiek. Hy is uiters waaksaam en sensitief wanneer hy buite sy veld beweeg. Maar almal reageer vandag egter soos eksperts. Ons is eksperts van die politiek, ekonomie, verhoudingsake en natuurlik geestelike dinge. Man, ons is almal deesdae slim! Almal reageer asof hulle oor die nodige kundige oordeelsvermoë beskik, terwyl dit bitter selde die geval is. 

  5. Het ek in die skrywer se skoene gaan staan? Op grond waarvan reageer hy en sou ek nie ook so gevoel het wanneer ek sy storie moes leef nie?

  6. Indien ek wel verskil, na heroorweging, is dit iets waarop ek moet reageer? Nie alles waaroor ‘n mens verskil, en waaroor jy ‘n sterk opinie het, vra vir reaksie nie. Is dit regtig wys om hierop te reageer? Gaan ek regtig ‘n bydrae tot die gesprek lewer, of gaan ek net nog ‘n onhoorbare stem by die lawaai voeg?

  7. Wanneer ek wel reageer omdat ek verskil, gebruik ek afbrekende taal van vyandskap en aggressie, of opbouende taal van begrip, versoening en medemenslikheid?


Die Goeie Nuus van Jesus is kommunikatief in sy wese. Sonder kommunikasie-vermoëns kan ons nie die Here hoor nie en ook nie Sy Nuus verkondig nie.


G’n wonder dat Jesus gesê het: 

“Wie ore het moet luister!”

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page