Soek God in die gewone
- Roedolf Botha
- 2 hours ago
- 3 min read
Verlede jaar (2025) het die fliek Train Dreams die lig gesien. Dis die lewensverhaal van ‘n karakter met die naam van Robert Grainier, gespeel deur Joel Edgerton. Wat die fliek werklik (vreemd genoeg) merkwaardig maak is dat daar min dramatiese dinge in die fliek gebeur. Dis ‘n baie lang, maar baie gewone storie van ‘n gewone lewe met sy hoogtepunte, laagtepunte, tragedies en uitgerekte dialoë, wat meestal nie uitloop op enige betekenisvolle gevolgtrekkings of resultate nie. Geen aksie nie, geen ingewikkelde intriges nie, geen gelukkige einde met ‘n mooi “lessie” nie. Daar is wel diep hartseer en teleurstelling, maar ten spyte daarvan sal sekere kykers na die prent kyk en dink die karakters is ‘n uiters vervelige spulletjie. Maar, alhoewel dit voorkom of daar nie veel in die storie gebeur nie, gebeur daar tog iets in die hart van die kyker. Ekself het na die fliek gekyk en toe die einde aanbreek, sit ek met ‘n knop in my keel. Ek het diep emosie gevoel en kon nie heeltemal verklaar waarom nie.
Maar toe besef ek - dis presies die punt. Ek voel die knop in my keel want ek sien iets van my eie lewe in hierdie storie. Die fliek is ‘n uiters akkurate voorstelling van hoe die meeste van ons se lewens beleef word. Dis hoe óns lewens soms vir ons voorkom. Alles verloop maar net elke dag in die meeste van ons se lewens, sonder oënskynlike betekenis, drama of intrige, soveel so dat sommige mense wonder of selfs God werklik aktief met hulle besig is. Ek besef toe dat ek emosioneel gevoel het juis omdat die fliek diep betekenisvol was. Iets het in my gebeur sonder dat ek presies verstaan het wat dit is. Die prent was eintlik diep geestelik sonder dat God se Naam eintlik genoem is. Want die “gewone” lewe is inderdaad met diep betekenis gevul omdat God dit so geskep het.
Alhoewel Jesus se lewe uiters dramaties en betekenisvol was en is, veral vir ons, het Hy eintlik vir ons geleer dat die vooruitgang van Sy koninkryk uiters gewoon kan lyk. Dis soos ‘n saadjie wat in die grond val en groei, verduidelik Hy in Matteus 13. Hy gebruik ook die voorbeelde van die saaier en die onkruid wat tussen die koring gesaai is. Daar is oënskynlik niks dramaties besig om te groei by enige plant of boom nie. Tog word dit groot, sê Jesus, en bring skadu vir mense en tuiste vir voëls. Dis hoe God werk. Soms voel ons juis dat daar nie veel wonderwerke gebeur of dat ons nie elke dag iets soos geestelike weerlig beleef nie.
Die Bybel leer egter dat ons die lewe nie moet onderskat nie. Die ganse lewe is een groot wonderwerk. Ons leef elke dag binne-in dit - dis waarom ons sukkel om dit raak te sien. God is elke dag en elke sekonde persóónlik aan die werk in Sy skepping, of ons dit nou so beleef of nie. Hy gryp in, hou Sy skepping met Sy eie hand in stand en bewaar Sy verhouding met elkeen van ons soos goud. Sy liefde werk deur die gewone sleur van die lewe, net soos wat Hy ook soms deur wonders en sigbare gebedsverhoring werk.
Die Bybel leer ons trouens dat dit óns is wat God se teenwoordigheid by mense sigbaar maak deur die werking van Sy Gees. Óns moet Jesus sigbaar en voelbaar vir ander maak. Óns is Sy sout en Sy lig. Wanneer ons mekaar liefhet sal mense God se teenwoordigheid waarneem en Hom vind en aanbid.
Wanneer jou lewe dus vir jou gewoon voel en lyk, soos Train Dreams, wéét dat niks in God se teenwoordigheid en in Sy skepping gewoon is nie. Soos Jakob in Genesis 28:16 sal ons dikwels wakker word, terugkyk en besef:
Die Here is hier en ek het dit nie besef nie.




Comments