Skryf in vir ’n taalkursus by die Here
- Stephan Joubert
- 13 minutes ago
- 1 min read
Teks: Spreuke 10:20
Dit is moeilik om ’n nuwe taal aan te leer. Dit vra jare se inoefening om dit reg te kry. Wel, ons moet aanhoudend ‘n ou taal afleer en ’n nuwe een aanleer. Ons moet ophou om dwaasheid te praat en wysheid baasraak. Spreuke leer ons dat dwase lief is vir haatpraatjies en vir skinder (10:18). Hulle verwoes ander mense met hulle woorde (11:9). Hulle maak mense seer met hulle venynige woorde (12:6). Van vroeg tot laat het hulle hul monde vol oor ander mense (18:2). Daarom is hulle woorde hulle ondergang (18:7). Ons moet sulke dwase taal hierdie jaar agter ons kry. Ons moet wysheid aanleer.
Wyse mense praat heeltemal anders as dwase. Hulle woorde is so begeerlik soos silwer en goud (10:20, 20:15). Hulle weet hoe om die regte dinge op die regte tyd te sê (15:23). Die regte woorde praat hulle op die regte tyd (11:9). Wyses weet sulke taal bring vrede en genesing (15:1). Hulle sagte woorde keer woede (16:13). Hulle vriendelike woorde veroorsaak dat selfs belangrike mense na hulle luister (22:11; 25:15). Wyse mense praat altyd eerlik (12:19). Hulle draai nie doekies om nie, maar hulle doen dit met die nodige integriteit. By wyse mense vind jy altyd kennis en insig (13:14). Raak asseblief sulke wyse taal baas. Skryf in by God se skool van wysheid. Laat Sy Gees jou onderrig. Laat Hy jou woorde iets begeerlik maak.
Gebed:
Ek begeer wysheid met alles in my. Maak U hemelse wysheid ook vandagdeel van my lewe, Heer.




Comments