Oud en jonk is goud werd vir God
- Stephan Joubert
- 1 day ago
- 1 min read
George McGovern sê iewers: “I’m fed up to the ears with old men dreaming up wars for young men to die in.”
Van oud en jonk gepraat - die woord teenager verskyn vir die eerste keer in 1673 in ‘n Engelse leksikon, terwyl die idee van generasiegapings eers vanaf die negentiende eeu af opduik. Tog dink die Bybel nooit in terme van ouderdom of generasies wanneer die regte en relevante uitleef van geloof ter sprake is nie. Anders gesê, nie een van ons is ooit te jonk of te oud om vir die Here te leef nie. Ouderdom is nie ’n voorwaarde, of ’n verskoning vir diens aan God nie. Ons kan dus nooit wegkruip agter ons jeugdigheid of ons hoë ouderdom wanneer die Here ons roep tot Sy diens nie. Abraham is eers op 75-jarige ouderdom geroep om ’n nuwe roete vir God in te slaan. Op sy beurt is Jeremia as ’n jongman geroep om as profeet op te tree.
Daar bestaan geen Bybelse kategorieë soos “afgetrede Christene” of “te jong Christene” nie. Ons almal, of ons jonk of oud is, het een en dieselfde basiese roeping. Dit is om elke dag ons kruis op te neem en Christus te volg. Die Heilige Gees is ewe veel oor ons almal, jonk en oud, uitgegiet, soos wat Handelinge 2:17 sê: “So sal dit gebeur gedurende die laaste dae,” sê God, “Ek sal my Gees in oorvloed uitgiet. Dan sal al julle jongmense visioene sien. En al julle ouer mense sal drome droom. Dan sal hulle my wil profeties bekendmaak” (NNT).




Comments