Liefde is … om onsself te gee
In “A Single Pebble” (1956) vertel John Hersey van ’n man wat ’n seun uit ’n rivier red wat in vloed is. Sy heldedaad is verstommend. Tog is daar iets anders wat die verteller aangryp, iets wat die lewensredder nooit in daardie einste oomblikke in ag geneem het toe hy sy eie lewe in gevaar gestel het om te help nie. “His action… showed a deep, instinctive love of life, a compassion, an optimism, which made me feel very good…”
Hierdie woorde verwoord iets van dit wat Paulus in 1 Korintiërs 13:4-7 bedoel as hy oor die liefde skryf. God se onvoorwaardelike liefde is die diepste dryfveer vir alles wat ons is en alles wat ons doen. Sy liefde maak ons vry van ons selfsugtige ego en van ons nimmereindigende behoefte aan erkenning en selfbehoud.
Die liefde van God is nooit ’n dam nie, maar altyd ’n stroom. Dit oorstroom ons denke, emosies, voetspore, vingerafdrukke en verhoudings. Dit veroorsaak dat ons al hoe meer vergeetagtig raak wat ons eie behoeftes betref. God se liefde, wat deur die Heilige Gees in ons harte brandend gehou word, laat ons besef die lewe draai nie om onsself nie. Ons hoef nie altyd in beheer te wees nie, want ons ken Iemand wat is. God hou ons styf vas; daarom kan ons onsself voortdurend soos water vir Hom en vir ander uitgiet.




Comments