top of page

Oop-arm God

  • Stephan Joubert
  • 16 hours ago
  • 1 min read

In ’n boek lees ek van ‘n seun wat sy pa se motor by die huis se inrit geparkeer het. Toe hy later weer met die motor wou ry, was dit skoonveld. Die seun het vergeet om die handrem op te trek. Die motor het tot aan die einde van die straat agteruitgeloop en toe oor ’n afgrond geval. Bevrees het hy dit vir sy pa gaan vertel. Die kind het die ergste verwag, maar sy pa het doodluiters sy koerant omgeblaai en gesê: “Dan sal jy seker ons bakkie moet vat!” Praat van kalmte van gees. Praat van ’n ruimhartige pa. 


As ons droogmaak verwag ons ’n afranseling. Sulke onverwagse reaksies, soos dié van ’n pa wat nie in woede uitbars as sy motor deur sy kind se nalatigheid afgeskryf is nie, betrap ons onkant. Dit herinner my aan die verlore seun se pa in Lukas 15 wanneer hy terugkeer nadat hy sy erfgeld uitgemors het. Hierdie verlore seun het sy ouerhuis afgeskryf, maar noudat hy in die moeilikheid was het hy verleë teruggekeer. In plaas van ’n teregwysing, tref hy dan ’n pa wat hom tegemoet hardloop en hom soen en omhels. So is God. Hy wag ons met oop arms in. Hy weet ons is skaam en verleë omdat ons drooggemaak het. Hy weet ons is stukkend, maar Hy verwyt ons nie. Hy omhels ons. Hy soen ons stil. Hy is tot oorlopens toe vol genade. Hy is ons oop-arm God.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page