God praat mooi oor ons
- Stephan Joubert
- Jun 8
- 1 min read
God spreek ons as Sy kinders mooi aan. Nooit noem Hy ons sondaars, mislukkings, of gebrokenes, soos wat party gelowiges soms na hulleself verwys nie. Hy noem ons Sy kinders. 1 Johannes 3:1 sê dat God hierdie aanspreekvorm verkies as bewys van Sy groot liefde vir ons almal. Hoor net (NNT): “Kyk net weer hoe lyk die liefde waarmee die Vader ons liefhet. Hy noem ons kinders van God en dus is ons is dit ook!”
Regdeur die Nuwe Testament word ons deur God aangespreek met terme soos heiliges, geliefdes, uitverkorenes en geroepenes. Ons is die bruid van Christus; die kudde van die goeie Herder; ’n koninklike priesterdom en die spesiale volk van God. Hierdie, en nog baie ander spesiale terme waarmee ons benoem word, onderstreep dat die Here ons beskou as Sy ewige, kosbare eiendom.
Die Here praat nooit neerhalend of afbrekend oor ons nie. Ons is immers die werk van Sy hande. Hy het ons in Christus herskep. Hy het ons splinternuwe mense gemaak, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 5:17-18 skryf: “Iemand wat in Christus glo is ‘n splinternuwe skepping! Daardie ou lewe is oor en verby. Let op! Alles het nuut geword. Nuwe lewe het aangebreek. God het dit alles laat gebeur. Dit is Hy wat ons Sy vriende gemaak het. Hy het ons versoen met Homself deur Christus se offer aan die kruis.”
Wat ’n genade dat die Heer ons so hoog ag. Kom ons leef hiervolgens. Kom ons gee vir Hom al die regte redes om vandag trots te wees op ons as Sy handewerke.




Comments