Jesus wil ons nie braai nie
- Stephan Joubert
- 12 hours ago
- 2 min read
Jesus wil ons nie gedurig braai as ons nie draai nie. Hy gebruik nie brandende oordeelsvure as bemarkingsmateriaal vir Sy eie boodskap nie. Hy nooi ons altyd na Hom toe uit. Hy is immers die Goeie Herder. Hy is die Lig vir die wêreld wat ons lewenspad vir altyd wil verlig.
Maak egter geen fout nie: Jesus is nie ons speelmaat nie. Hy is geen verstrooide romantikus wat ’n paar tydlose anekdotes oor die liefde hier op aarde kwytgeraak het nie. Sulke mense slaan jy nooit aan houtkruise vas nie. Jesus is die Lam van God wat sy eie lewe om ons onthalwe prysgegee het, maar Hy is ook die Leeu van Juda.
Vra vir Jill, een van die dogtertjies in C. S. Lewis se bekende kinderverhale, “The Chronicles of Narnia”. In The Silver Chair lees ons hoe Jill by ’n waterstroom aankom waar Aslan, die leeu, lê. Aslan verteenwoordig Christus in Lewis se verhale. Aanvanklik is Jill bang om water te drink, veral as Aslan vir haar sê hy het al koninkryke verslind.
"I suppose I must go and look for another stream then,” roep Jill benoud uit.
“There is no other stream!” antwoord Aslan. Dan gebeur daar ’n mooi ding. Dan drink sy water in die nabyheid van die groot Leeu.
Al is Aslan die leeu gevaarlik, wink hy Jill nader, net soos wat Jesus graag met ons elkeen doen. Sy nabyheid lei nie tot naakte vrees, wat ons afskrik of wegstoot nie. Hy dreig ons nie met vuur en swael tot geloof nie. Sy grootheid en grootsheid begelei ons tot eerbied en verwondering. In die nabyheid van Jesus, die Leeu en die Lam, vind ons skuiling en rus.




Comments