Egtheid kom teen ’n prys
- Stephan Joubert
- 16 minutes ago
- 1 min read
Die prys wat jy moet betaal om jouself te wees, is waaroor egtheid gaan. Die lewe forseer jou gedurig om te leef volgens weet hoeveel ander verwagtings. Vanaf die werk tot by die kerk moet jy presteer, uitblink, opstaan en uitstaan. Jy moet voldoen aan dit wat ander van jou vra. Jy moet inpas. Jy moenie stir nie. Jy moet almal se vriend wees en almal tevrede hou. Wel, moet jy?
Om jouself op outentieke maniere te wees, soos wat die Here jou geskep het, kos ’n prys. Nee, jy hoef nooit jou uniekheid uit te basuin deur oorboord te gaan met allerhande uitspattige gewoontes of ’n uitdagende voorkoms nie. Dan is jy nie regtig jy nie. Om ander mense te probeer skok met jou uniekheid is nie ’n volwasse manier van dinge doen nie. Die regte roete is om te weet op watter unieke maniere die Here jou bedraad het om net jy te wees.
Vind opnuut vreugde in jou eie manier van dink, voel en praat. Maak vrede met hoe jy jou gevoelens verwoord en hoe jy dit deernisvol wys. Kyk die donker kante van jou persoonlikheid ook in die oë. Sien dit raak. Gee dit lig, die Here S’n. Wees jouself, al kom dit teen ’n prys. Sorg altyd dat jy hierdie regte prys werd is. Dan sal mense jou respekteer, al verskil jy soms van hulle. Dan sal hulle weet jy is eerlik sonder om ongeskik te wees. Bo alles sal God ook weet dat jy met integriteit leef omdat jy getrou is aan Sy droom en visie vir jou lewe.




Comments