Om goed te wees, is om goed te doen
Psalm 119:68 bely dat God goed is; daarom doen Hy goed. Die Boodskap stel dit as volg: “U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge.” Inderdaad! God is goed. God is goed vir álmal op aarde. Hy is uitsonderlik goed vir al Sy kinders. Hy oorlaai ons met al Sy genade. Hy doen dit aanhoudend. Hy doen dit vir altyd.
Om God se goedheid te ervaar, is om gedurig daaroor te sing en juig. Om God se goedheid te ken, is om self ook goed te doen. Nee, goedheid is nie uniek aan ons as gelowiges nie. Ons het nie die alleenreg hierop nie. Maar gelowiges wat nie goed is en goed doen nie, is in groot moeilikheid. Om God se goedheid te ken, is om ons lewe hierop te modelleer. Dit is om die karakter van God in al ons doen en late te weerkaats.
Ons doen nie goed om beter mense te probeer word nie. Ons doen goed omdat ons met integriteit in God se nabyheid leef. Ons doen goed omdat ons die Heer se goedheid weerkaats. Goedheid is regtig nie net ‘n mooi ideaal nie. Dit is ’n realistiese manier van leef. Dit is ook ‘n mooi manier van leef. Nog meer, dit is die enigste regte manier van leef! Wees goed, want God is baie goed vir jou.




Comments