top of page

Nou is die tyd vir dapperheid by leiers

  • Roedolf Botha
  • Nov 12
  • 5 min read

In die September-Oktoberuitgawe van die Harvard Business Review skryf Ranjay Gulati ‘n treffende artikel, getiteld: “Now is the Time for Courage”. Hy wys daarop dat in hierdie onseker tyd van politieke, ekonomiese en tegnologiese onrus, leiers te versigtig is om tot die nodige aksie oor te gaan. Sommiges vries eenvoudig, oorweldig deur omstandighede. Ander hou hulleself in, in die hoop en antisipasie dat die chaos later self verby sal gaan. Ander weer doen afleggings om sodoende hulle gemeentes of organisasies se toekoms (of hulle eie) te probeer verseker. Gulati wys egter daarop dat die nuutste navorsing, veral aangaande die laaste tyd, sedert die 2008 finansiële krisis tot nou toe, die eeue-oue gesegde bevestig naamlik:


“Fortune favours the brave, not the cautious.”

Data aangaande hoe 4700 openbare maatskappye die laaste drie resessies hanteer het, dui daarop dat sowat 9% van organisasies elke keer sterker aan die ander kant van die moeilikheid uitgekom het, nie bloot omdat hulle nadenkend kostes gesny het nie, maar ook omdat hulle juis in hierdie onseker tye berekende risiko’s geneem het om in groei te belê. Daar is ook baie nagedink oor wat die karaktereienskappe is wat dapper besluite dryf. Sedert die dae van Plato en Aristoteles vra mense al of dapper leierskap ‘n ingebore eienskap is en of dit aangeleer kan word.


Die goeie nuus is dat onlangse studies in die velde van Sielkunde, Sosiologie, Ekonomie en Neurowetenskap vir ons aandui dat dapperheid aangeleer kan word.


Dapperheid as ‘n keuse


Gulati definieer dapperheid as “a willingness to take a bold, risky action to serve a purpose that you perceive to be worthy, usually in the face of an abiding fear”. Hierdie vrees kan byna enige iets wees, soos ‘n nodigheid om emosioneel kwesbaar te wees, om vir ‘n ruk lank misverstaan te word oor jou morele waardes of om te baklei vir nuwe en onortodokse idees. Die gewone gebruik van “cost / benefit analysis” was nog altyd waardevol in risikobestuur, maar, beweer Gulati, dis nie in die huidige omstandighede genoeg nie. Hy sê: “Under volatile, uncertain, complex and ambiguous circumstances, outcomes are unknown, most people feel a loss of control, triggering fear, which often leads to paralysis or retreat. Brave leaders, by contrast, are able to reclaim their agency and fight.”


Die navorsing wys daarop dat daar vyf maniere is waarop brawe leiers dapperheid in die instansies wat hulle lei ontwikkel. Die vyf maniere is: 1) Hulle skep positiewe narratiewe, 2) kultiveer selfvertroue (confidence), 3) neem klein stappies om hulle eie begrip van die uitdagings waarmee hulle werk, te vergroot 4) hulle maak konneksies en laastens 5) bly hulle kalm. Hierdie nuusbrief gaan ek hanteer as Deel 1 en slegs die eerste twee maniere bespreek, waarna ek in die volgende nuusbrief, Deel 2, by die daaropvolgende drie maniere sal uitkom.


  1. Skep ‘n positiewe verhaal

    Daar is sowat drie gewoontes wat leiers help om positiewe verhale te skep.

    1. Gaan “jag” vir risiko’s. Identifiseer en versag die uitdagings of bedreigings wat voor jou lê. Hier gaan dit nie daaroor om die risiko so te versag dat dit nie meer soos ‘n risiko klink nie, maar om nuwe taal te skep wat die persepsie aangaande die uitdaging sal verander. Sodoende skep ‘n mens die persepsie dat die onseker toekoms wel moontlik is en dit bring hoop. ‘n “Risikojagtog” help dus om die onseker wêreld waarin ons leef te herberaam in ‘n ordelike lig, sodat dit die groep motiveer om dit tegemoet te gaan. In ‘n gelowige omgewing kan die belangrikheid van geloof self nooit hier onderskat word nie.

    2. Soek en vind ‘n morele avontuur. Hierdie is ‘n herberaming van die nodige aksie as ‘n heldhaftige strewe van die waardes waarna almal in die organisasie smag. Navorsing toon sterk aan dat mense veral kragtig geïnspireer word wanneer hulle deur hulle morele waardes tot waagmoed gemotiveer word. Sodoende voel mense ‘n sense of belonging and meaning midde-in die groep.

    3. Roep jou geloof op (die taal van Gulati self). Hier verwys Gulati onbeskaamd na ‘n “hoër Mag”, by wie ons in moeilike tye hoop en krag vind. Vir ons beteken dit natuurlik alleenlik die krag en leiding van Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees. Ons moet mekaar oproep tot dieper geloof en vertroue dat God dit waarmee ons besig is vir Sy koninkryk, goedkeur en seën. Ek staan self met my een voet in die besigheidswêreld en dis vir my hartseer hoe sekulêre mense of gelowiges in die besigheidsfeer meer geloof het in die bereiking van hulle waardegedrewe doelwitte, as geestelike leiers in die kerkgemeenskap.


  1. Kultiveer selfvertroue (confidence)

    Wat Gulati bedoel met selfvertroue (confidence) is “what you believe you can do with the skills you have under a variety of circumstances”. Dis dus geen confidence wat uit die lug gegryp is nie, maar ‘n realistiese vertroue in die gawes en vermoëns wat die Here aan die mense geskenk het wat deel van die proses is. Dit sluit natuurlik die uitkies en ontwikkeling van leiers wat uiters bekwaam is in. Daarom verwys Gulati hier ook na drie dimensies.

    1. Lei mense intensioneel op. Mense moet bewus gemaak en voortdurend toegerus word sodat die best practices van die maatskappy se kultuur vir hulle so natuurlik soos asemhaal begin voel. Dis belangrik dat hierdie gewoontes tweede natuur sal word sodat mense volgens die waardes van die maatskappy reg sal optree, selfs onder die meeste druk en onder die moeilikste omstandighede.

    2. Versamel ‘n groot gereedskapkis. Die soort gereedskap moet wyd gedefinieer word, soos byvoorbeeld maniere van dink vir die oplos van probleme en selfs maniere om veerkragtig te bly, sowel as om jou mense te help en toe te rus om kop te hou tydens uitdagende omstandighede. NASA het byvoorbeeld agtergekom dat tydens die opleiding van hulle ruimtevaarders dit net so noodsaaklik is om hulle op te lei in geestelike uithouvermoë, as in tegniese vaardighede.

    3. Fokus op wat onder jou beheer is. Wanneer die organisasie van buite af deur allerlei kragte bedreig word, is dit belangrik om af te vra waar en of die maatskappy ‘n verskil kan maak. Dis uiters onproduktief om te sit en tob en bekommer oor dinge waaroor jy geen beheer het, of waaraan niemand enige iets kan doen nie. Dit kan onder andere beteken om ‘n groot uitdaging op te deel in klein stukkies sodat dit meer beheerbaar voorkom. Dis die rol van leiers om onder andere mense met perspektief te help sodat hulle met uitdagende realiteite kan cope


In die volgende nuusbrief sal ons die ander drie maniere van die kweek van dapperheid hanteer. In hierdie brief is dit egter belangrik dat ons sal onthou dat God van ons geloof eis. Geloof in Hom wat op die troon van die geskiedenis sit, wat nooit sy naels kou oor wat die ekonomie doen, of wat die regering aanvang nie, is wat ons nodig het om met geestesgesondheid te leef. Mag ons leiers wees wat geloof in Hom, wat Homself kom gee het, kweek sodat Sy gemeenskappe in vrede en vryheid kan funksioneer.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page