‘n Goeie standpunt is nie ‘n goeie vervanging vir liefde nie
- Roedolf Botha
- 1 day ago
- 3 min read
Ek dink die era het aangebreek vir ‘n behoefte aan stilte. Die lawaai, die hoeveelheid opinies, die hoeveelheid geraas raak net te veel. Dis net my opinie. Ek weet - nóg een!
Dié nuwe insig het op my neergedaal, terwyl ek ‘n diep teologiese ervaring gehad het. Ek het ‘n episode van Star Trek gekyk. Die “regte” oorspronklike Star Trek met William Shatner as kaptein Kirk. Die episode was getiteld The Ampath. Die bemanning van die Enterprise het op ‘n vreemde planeet iewers in die buitenste ruimte beland. Hier het hulle ‘n vrou met mooi, groot liefdevolle oë ontmoet, wat empaties na almal rondom haar kyk. Wat uniek van haar was, was dat sy die vermoë gehad het om diep met mense te empatiseer en mense se pyn letterlik haar eie te maak. Een keer, toe kaptein Kirk in sy voorkop gewond was, het sy met innige meegevoel aan sy kop geraak. Toe sy hom aanraak, verdwyn die wond aan sy voorkop en herverskyn op hare. Sy het letterlik die pyn van ander gedra. Sy het geen vyande gehad nie, maar het eenvoudig empatie getoon aan almal, wat dit nodig gehad het.
Die heel merkwaardigste eienskap van hierdie empath, was egter wat ‘n diep indruk op my gemaak het: sy het geen stembande gehad nie. Sy kon nie praat nie. Sy kon geen opinie uitspreek nie. Sy kon geen mondelingse verduideliking van enige iets gee nie. Sy kon nie die wêreld beter praat nie. Sy kon geen standpunt op Tik-Tok versprei nie. Sy kon slegs mense liefhê en hulle pyn dra. Dit het my so aan Jesus laat dink, toe Hy voor Pilatus staan en op ‘n stadium besluit om niks meer te sê nie. Dis asof Hy daardeur wou sê:
“Opinies is nou oorbodig, Ek bly nou stil. Die tyd vir praat is verby. Hou egter hierdie spasie dop, want wat Ek nou gaan doen, gaan vanself spreek. Ek gaan my lewe gee - julle sal sien. En die gebeure wat gaan volg, sal alles sê wat Ek wil sê.”
Ek wens meer Christene wil hierdie roete vandag volg.
Hierdie Star Trek-episode lewer geweldige kragtige sosiale kommentaar op vandag se wêreld. Ek wens ek kan vir ‘n hele jaar stilbly en my eie stembande laat rus. Ek is moeg vir die klank van my eie stem, maar ek moet erken ek wil nie alleen stilbly nie. Ek sal dit nogal geniet as ander mense ook saam met my kan stilbly. Miskien sal ons mekaar dán begin raaksien. Dan sal ons dalk mekaar se pyn begin raaksien en eenvoudig begin om mekaar se laste te dra. Ek weet ons het woorde ook nodig. Ons is immers wesens wat kommunikeer en gesels en gesprek voer. En ons het inderdaad goeie gesprek nodig. Maar hier is die waarheid van Jesus wat ge-eggo het deur die empath-episode:
Goeie woorde het slegs krag, wanneer dit met goeie dade gepaardgaan. Mense hoor ons nie meer nie, want dalk sien hulle nie meer die goeie nie. Dalk wil ons te veel praat en te min doen. Goeie teologie word eers geleef, voordat dit gepraat word. Ons praatkultuur moet dalk eerder met ‘n kultuur van empatie en dade van liefde vervang word. Ons moet ophou dink ons opinies gaan die wêreld beter maak. Dis dade van liefde, verduidelik deur die daad van Jesus op Golgota, wat die wêreld beter maak.
Die empath-episode eindig baie veelseggend: Dokter McCoy is sterwend en die empath neem sy sterwe op haarself. Sy sterf vir hom. Die episode eindig met een van die Enterprise se bemanning, Scotty, wat vir Kaptein Kirk sê:
“She was the pearl of great price. You know, Captain, the merchant that sold everything and bought the pearl.”
Presies.
コメント