top of page

My hond

  • Siegfried Louw
  • Jun 10
  • 2 min read

My gesin se goue labrador nader sy veertiende jaar. Cohen is by ons gebore en het die uitverkore een geword om by ons te bly. My kinders het hom help grootmaak. Ek moet nog iemand of iets ontmoet wat méér opgewonde oor ʼn bal kan wees. Wanneer die opwinding oor ʼn tuiskoms of ʼn bakkie kos of ʼn besoeker te groot raak, word alle aandag op ʼn bal uitgestort. As ek een van my kinders ʼn drukkie gee, gaan haal Cohen ook ʼn bal. Hy is blykbaar daarvan oortuig dat die bal hom onweerstaanbaar maak. Sy verwagting is dat ek dadelik my kinders of my vrou sal los as hy met ʼn bal by my opdaag.


Volgens die veearts gaan dit eintlik baie goed met Cohen, veral indien ons sy ouderdom in ag neem. Ek begin al hoe meer die sterre van die heelal in sy blouerige oë raaksien, terwyl hy stadigaan al hoe minder van óns sien. ʼn Stappie in die parkie is een van die beste idees wat ʼn dag vir hom kan inhou, maar ons moet mooi beplan waar en hoe ons gaan loop. Sy heupe gee enige oomblik sonder waarskuwing in. Dan wil sy voorlyf nog loop, maar sy agterlyf weier. 


Die neurowetenskap vertel aan ons dat honde-eienaars, wat gereeld interaksie met hulle honde geniet, se breinstruktuur mettertyd verander. Hormone, soos oksitosien, het ʼn invloed op ons brein sodat ons byvoorbeeld beter emosionele regulering kan ervaar. Neurale bane in ons brein word positief deur gereelde interaksie met ons hond beïnvloed. Hierdie spesifieke bane word geassosieer met ons vermoë om empatie te hê, met ander geliefdes bande te kan vorm, asook om angstigheid te verminder.


ʼn Vriendin vertel vir my van die wonderlike preek wat sy bygewoon het. Die preek het gegaan oor troeteldiere en die hemel. Ek gaan nie nou op die detail van daardie boodskap in nie. Wat wel vir haar opvallend was, was die feit dat die leraar met soveel deernis en omsigtigheid gewerk het.


Twee weke voor hierdie spesifieke preek, het dieselfde leraar oor spesifieke groepe mense gepreek. Dieselfde nederigheid, omsigtigheid en empatie wat die leraar vir honde gehad het, was toe egter geheel afwesig. Die boodskap was duidelik en kru.


Hierdie teenstrydigheid het my toe aan die dink gesit oor myself. Wat maak dat ons so baie empatie en bewondering vir diere kan hê, maar dat ons dit soms kan afskakel wanneer dit by mense kom? Jesus leer ons tog immers dat ons nie mense moet goed behandel net wanneer hulle ons goed behandel nie. Ons stort ʼn traan of twee oor verwilderde, bang honde wat aggressief vir hulle lewens veg. Mense deel video’s van honde wat met groot geduld transformeer wanneer hulle liefde ontvang. Hoeveel meer behoort ons nie te kies om mense met liefde te benader nie? Ons doen dit dan vir ʼn hond?


Ek sal waarskynlik nog vir ʼn hele ruk hieroor dink, veral wanneer ek die nat tennisbal weer en weer ʼn entjie gooi.

コメント


この投稿へのコメントは利用できなくなりました。詳細はサイト所有者にお問い合わせください。
bottom of page