top of page

Vreemde kode

  • Siegfried Louw
  • 3 hours ago
  • 3 min read

Ek staan by die kennisgewingbord van ʼn plaaslike gesondheidswinkel. Oral is daar woorde oor spesiale aanbiedinge. En daar, tussen al die woorde, pryk die swart-en-wit blokkies van ’n QR-kode lewensgroot. Niemand kyk daarna nie. Dit dra potensieel baie betekenis, maar dit wag vir iemand om net op die regte manier daarna te kyk.


Ons word oral met woorde omring. Stap enige sentrum of winkel binne en jy sal onmiddellik oral woorde herken. Die doel van die woorde is gewoonlik om iets aan jou te verkoop, jou aandag te trek of om jou te beïnvloed om iewers te kyk waar jy nie van plan was om te kyk nie. Ek oefen al jare lank aan die gewoonte om woorde teen mure en kennisgewingborde te ignoreer, want dit plaas gedagtes in my kop voordat ek kon kies of ek dit daar wil hê of nie. Selfs “live, laugh, life” ontlok by my ʼn bietjie skeptisisme, want ʼn eenvoudige natuurtoneel sê vir my baie meer as drie woorde. En beelde en tonele praat elke keer anders, terwyl woorde dieselfde bly.


Aangesien ek meer op prente, kleure en lettertipes fokus, eerder as die woorde teen die mure self, vind ek een spesifieke hedendaagse fenomeen geweldig interessant: QR-kodes. QR-kodes word onbeskaamd in allerhande groottes teen mure en op papiere geplaas. Vir die menslike oog is dit net ʼn spul swart en wit blokkies en dit dra geen ooglopende betekenis nie. Niemand lig egter ʼn wenkbrou daaroor nie, selfs al is die QR-kode die grootste element op ʼn voubiljet.


Die rede hiervoor is eenvoudig: Almal aanvaar dat QR-kodes deur iets anders geïnterpreteer sal word. Jy kan maar net jou selfoon of tablet daarop rig en jou toestel sal weet wat om daarmee te doen. Ons het blykbaar heeltemal rustig daarmee geword om onsself met tekens en prente te omring wat vir onsself glad nie sin maak nie, sonder dat dit spanning by ons veroorsaak.


Tog laat dit my diep wonder.


Hoeveel ander dinge is alles rondom ons, sonder dat ons dit hoor, sien of oplet? Om dit nog verder te interpreteer en te verstaan, is selfs ʼn volgende tree. Aanvaar ons maar net dat ander mense of sisteme die interpretasies namens ons sal doen? Net soos ’n QR-kode wag vir ’n lens om dit te lees, wag die wêreld vir oë, wat deur die Gees kan sien.


Soos QR-kodes is God se teenwoordigheid soms sigbaar, maar ons verstaan dit eers as ons die regte “leser” gebruik: Geloof, stilte, aandag. Daar is baie dinge, wat rondom ons gebeur. Ek begryp die meeste van die wêreldpolitiek glad nie meer nie. Ek verstaan mense se intense emosies oor sekere onderwerpe ook nie aldag nie. ChatGpt se antwoorde oor my vrae oor hierdie sake lyk en voel gereeld vir my soos net nóg ʼn QR-kode: Antwoorde met baie inligting, maar geen siel daarin nie.


Miskien is dit waarheen my eie ervaring my nooi: Om eerder kontak met regte mense in hulle regte lywe op te soek, eerder as ʼn skerm en ʼn selfoonplatform. Die tegnologiese kontak is belangrik, maar dit is net die eerste tree.


Ek het lank gewens God het ’n e-posadres. Nou dring dit tot my deur: Hy wag nie vir my boodskap in ’n inboks nie, maar vir my aandag aan die gewone dinge, selfs aan ’n swart-en-wit kode teen ’n muur.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page