top of page

In die smeltkroes van swaarkry

  • Alet Gardner
  • Nov 19
  • 2 min read

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. So bemoedig Petrus sy lesers in 1 Petrus 1: 6-7 AFR83 


Petrus verwys hier na die suiweringsproses van goud, wat in antieke tye ‘n baie “persoonlike” proses was. Die goudsmid het die gouderts eers fyngekap en dan gewas om van die ongewenste materiaal te verwyder. Daarna is die ongesuiwerde gouderts tot ‘n uiters hoë temperatuur in ‘n smeltkroes verhit. Die smid het deurentyd onsuiwerhede, wat bo-op die gesmelte metaal gedryf het, versigtig afgeskep en die proses oor en oor herhaal totdat hy sy gesig in die oppervlak kon sien weerkaats. Die resultaat van die smid se fyn aandag en harde werk was suiwer, uiters waardevolle goud.  


Gedurende ‘n tyd van verandering, aanpassing, besigwees en ‘n ou infeksietjie op die koop toe, was Gerard Kelly se gedig “Furnace” vir my persoonlik ‘n tydige herinnering. “In your furnace, my faith is formed.” Wat ’n wonderlike troos is dit nie! Ek het ‘n liefdevolle, alwyse, magtige hemelse Vader, wat ‘n oog oor my hou, terwyl ek in die smeltkroes van ‘n krisistyd is. Hy weet hoeveel ek kan vat, hoeveel “hitte” nodig is om my geloof te suiwer sodat ek sterker en wyser anderkant kan uitkom - sodat die resultaat van hierdie suiweringsproses waarlik Sy Naam sal verheerlik. 


“Furnace” – Gerard Kelly


May God in whose furnace faith is forged

In whose being beauty breathes

From whose dawning darkness flees

Shine on you


In my liefdevolle Hemelvader se furnace word ook my geloof gesuiwer en versterk. In Sy versorgende hande is ek veilig. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page